Friday, 1 June 2012

Mosselbaai nooddienste paraat

Brandweerbeamptes het gou-gou die vlamme geblus toe die wrak in ligte laaie op die skoolterrein gestaan het.

Brandweerbeamptes het gou-gou die vlamme geblus toe die wrak in ligte laaie op die skoolterrein gestaan het.
MOSSELBAAI NUUS - Toe mnr Calvin Mann, skoolhoof van St Luke Primêre Skool op Brandwacht, Vrydagmiddag, 25 Mei sy leerders inlig oor die Mosselbaai Nooddienste se demonstrasie, het hulle nie verwag om te sien hoe twee van hul gewilde onderwysers uit 'n motorwrak bevry moet word nie, maar hulle was baie beïndruk met die vertoning deur al die vertakkinge van die verskillende dienste.

Eerste aan die beurt was die gewilde Daantjie Kat en verkeersbeampte Maryke Zeeman, wat veral die verkeersreëls van toepassing op die leerders baie gepas toegelig het. Zeeman het die leerders gemaan om te let op hul veiligheid as passasiers in voertuie en as voetgangers op die paaie.

Van die leerders het selfs aan hul maatjies gedemonstreer hoe om veilig die pad oor te steek. Sy het jongmense wat voornemens is om 'n leerlingbestuurslisensie te bekom daarop gewys dat dit 'n besonder bemagtigende stap in hul lewe is en dat hulle veral hard moet werk om daarvan 'n sukses te maak.

Daarna het die leerders verwonderd gesit en kyk hoe lede van die brandweer en Metro Nooddienste twee van hul onderwysers uit 'n motorwrak bevry. 'n Wrak is op die skoolterrein geplaas en twee van die skool se gewilde onderwysers het hulle as insittendes voorgedoen.

Die noodpersoneel het gedemonstreer hoe hulle met gesofistikeerde toerusting pasiënte uit wrakke kan lossny, voordat die Metro Nooddienste gedemonstreer het met watter vernuf hulle die pasiënte kan behandel en afvoer.

Met die beseerdes uit die weg, het die brandweer gewys hoe paraat hulle is om 'n wrak wat aan die brand is, te blus. Die leerders het gesien met watter vernuf die brandweerbeamptes vlamme wat uit die motor gepeul het, in 'n japtrap geblus het.
Leerders met wie die Mossel Bay Home Ads News gesels het, was dit eens dat hulle die vertoning baie leersaam gevind het en baie pitkos gekry het om aan te herkou.

No comments:

Post a Comment