Saturday, 23 June 2012

Pasiënt brand dood toe hy skuiling probeer soek


Die skade in een van die kamers. Foto: Marinus Mulder

’n GEESTELIK versteurde man wat in eergisteraand se verwoestende brand in die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks dood is, het vermoedelik onder sy hospitaalbed skuiling teen die vlammehel gesoek en versmoor.

Nog ’n pasiënt is in ’n kritieke toestand in die hospitaal. Die 63-jarige Hendrik Dichabe wat in die brand gesterf het, is ’n dekade gelede hier opgeneem. Sy lyk is eers ure nadat die brand geblus is, gekry.

Nog ’n pasiënt, Paseka Mokhokare (45) van Jagersfontein, wat deur beamptes van die Mangaung-metro se brandweer-en-nooddiens uit die brandende gebou gered is, was gister in ’n kritieke toestand in die Pelonomi-hospitaal.

’n Verslae Patrick Tsibolane, uitvoerende hoof van die hospitaal, het gister gesê hy het, toe hy eergisteraand in die bed klim, só gewens hy kan vir sy vrou sê niemand is dood nie, maar toe kry die brandweermanne Dichabe se lyk.

“Dit is verskriklik. En hier het ons gedink almal is gered, ons het goeie werk gedoen. In hospitale gaan mense dood omdat hulle siek is, maar nie só nie.”

Hy sê Mokhokare het ter nouer nood aan die dood ontkom toe hy deur beamptes van die Mangaung-metro se brandweer-en-reddingsdiens in die brandende gebou gekry is.

Altesaam 24 pasiënte en twee verleegsusters het ongedeerd uitgekom terwyl die brand vinnig deur die dak versprei het. Die skade beloop sowat R7 miljoen.

Volgens ’n reddingswerker kon personeel van die hospitaal nie Donderdagaand vir die brandweer sê hoeveel pasiënte in die brandende vleuel was nie.

Hy sê ernstige vrae moet aan die hospitaal en gesondheidsdepartement hieroor en oor die hospitaal se noodplan gevra word.

Elke de Witt, woordvoerder van die department van gesondheid, sê Dichabe het geen familie nie.

Hy was sedert 2002 in die hospitaal, nadat hy in ’n motorongeluk was. Hy het aan skisofrenie gely en was by tye psigoties.

Die departement het gister vervoer beskikbaar gestel om Mo-khokare se familie van Jagersfontein na Bloemfontein te bring om hom in Pelonomi te besoek.

’n Forensiese span van die polisie ondersoek nog die oorsaak van die brand wat glo in een van die kamers uitgebreek het.)Sien foto’s op bl. 4.

51-407-9260 bel of skenkings by die kompleks aflewer.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment