Saturday, 23 June 2012

Reën verwag, koue môre terug

Na die afgelope relatief warm week gaan ’n naderende kouefront Gautengers more en veral Maandag van voor af laat bibber.

Dié kouefront sal temperature na raming met sowat 4ºC laat daal.

Lulama Menze, ’n weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), het gesê daar is ’n 30% kans op reën in Gauteng vandag en dat ’n waarskuwing vir hewige donderstorms in die verre suide van Gauteng uitgereik is.

“’n Oppervlak-trogstelsel veroorsaak tans swaar reën oor groot dele van die binneland.

’n Waarskuwing vir hewige storms is vir die verre suide van Gauteng uitgereik en ons verwag ook sterk donderstorms in die sentrale en oostelike Vrystaat en in KwaZulu-Natal,” het Menze gesê.

Hy het gesê die kouefront wat more in Gauteng sal aankom, sal Maandag noordooswaarts oor die provinsie beweeg en sal teen Dinsdag oor Mpumalanga en Limpopo geleë wees.

Temperature in Pretoria sal van 10ºC/21ºC vandag na 6ºC/18ºC more en 5ºC/16ºC Maandag daal.

In Johannesburg sal temperature van 8ºC/19ºC vandag na 4ºC/15ºC more en oormore na 3ºC/14ºC daal.

Geen reën word more in Gauteng en omliggende gebiede verwag nie.

Menze het gesê van Dinsdag af sal temperature geleidelik weer begin herstel.

“Dit sal van Dinsdag af weer effens warmer raak, maar veral minimumtemperature sal nog vir ’n paar dae goed koud bly,” het hy gesê.

- Beeld

No comments:

Post a Comment