Saturday, 23 June 2012

Stygende seevlakke kan suidkus in Wes-Kaap swaar tref

KAAPSTAD.– Dit blyk die suidkus sal die swaarste in die Wes-Kaap getref word weens stygende seevlakke.

Die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbestuur het gister ’n voorlegging aan die provinsiale parlement se staande komitee oor landbou en omgewingsbestuur gedoen oor navorsing wat die konsultante Umvoto Africa oor stygende seevlakke gedoen het.

Dié studie het op die Weskus-, Overberg- en Eden-distriksmunisipaliteite gefokus. Kaapstad het sy eie studie onderneem.

Goosain Isaacs van die departement se eenheid vir klimaatsverandering en biodiversiteit het gesê tussen 1961 en 2003 het seevlakke wêreldwyd met 1,8mm per jaar gestyg, en sedert 2003 met sowat 3,4mm per jaar.

Klimaatsverandering en die gevolglike smelting van ys is hiervoor verantwoordelik.

Vorige studies het bevind aan die Weskus styg seevlakke jaarliks met 0,42mm, langs die Suid-Kaapse kus met 1,57mm en langs die ooskus met 3,55mm per jaar.

Voorts is gevind seevlakke kan teen 2100 met 2m gestyg het.

’n Verdere studie het bevind storms wat deur stygende seevlakke veroorsaak word, kan Kaapstad in die volgende 25 jaar R5miljard tot R25miljard kos.

Isaacs het egter gemaan dié inligting moet nie onnodige paniek veroorsaak nie.

Hy het gesê Umvoto Africa se studie dui daarop dat die suidkus die mees kwesbare deel van die provinsie is wat die impak van stygende seevlakke betref.

Volgens hom moet daar vir spesifieke gebiede studies gedoen word om te bepaal hoe dié gebiede geraak en wat die risiko’s daar sal wees.

Die studie beveel ook aan dat buffersones onmiddellik gebruik moet word en dat kusontwikkelings nie nader as ’n sekere afstand van die see goedgekeur moet word nie.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment