Saturday 23 June 2012

Boere verwelkom Junie se reën


'n Reënboog en 'n goeie reënbui. Foto: THEUNS PRINSLOO

Welkome reën het in die eerste week van Junie wydverspreid oor die winterreëngebied geval.

Boere sê ná ’n warm en droë Mei was die reën wat in Junie geval het “net betyds”. Mnr. Pieter Beukes van die plaas Klipheuwel buite Caledon sê hulle het 42 mm reën gekry nadat dit redelik droog was in Mei. Hy sê alle gesaaides het goed opgekom en hulle het min probleme met plae. Die reën sal ook die weiding ’n hupstoot gee.

“Die reën was soos manna uit die hemel, want die graan het al begin swaar trek.” Mnr. N.D. Fick van die plaas Pofadderskloof buite Napier sê die reën was baie welkom. Die weiding “sal nou begin bykom”. “Die graan wat vroeg gesaai is, het goed opgekom, maar dit wat in Mei se droogte moes opkom, was stadig.”

Ook in die Riversdal-omgewing is goeie reën gemeet. Aangesien hulle sulke goeie reën voor die planttyd gekry het en goeie vogbewaringspraktyke toepas, was min reën in Mei daar nie so ’n groot probleem nie. Volgens mnr. Jan-Hendrik Joubert van die Joubert-boerdery het hulle 40 mm reën gemeet. Boere in die Swartland sê die reën was net betyds om ’n ramp af te weer.

Keerpunt in die seisoen
Mnr. Hannes Eksteen van die plaas Melkbosfontein, Piketberg, het 58 mm reën gemeet, maar net 26 mm op die plaas wat hy by Koringberg het. Hy beskou die reën as ’n keerpunt in die seisoen. Mnr. Pierre Heydenrych, wat buite Vredenburg boer, sê die seisoen het vanjaar daar nie baie goed begin nie, maar die 25 mm tot 40 mm reën wat hulle vroeg Junie gekry het, sal baie help.

“Die seisoen het laat begin. Die graan het nie baie goed opgekom nie en die weidings is nie te goed nie.” Hy sê wat nou belangrik is, is om gou weer opvolgreën te kry. “Die graan moenie nou nog ’n terugslag kry nie.” Buite Malmesbury is mnr. Truter de Kock van die landgoed De Grendel dankbaar dat die 40 mm tot 70 mm reën wat in sy omgewing gemeet is, “mooi sag geval het”. Volgens hom lyk die seisoen belowend.

Wisselvallig, maar goed
Verder noord in die winterreëngebied het dit wisselvallig, maar goed, gereën. Mnr. Jan Brand van die plaas Brakfontein, Clanwilliam, het 37 mm gemeet, terwyl van sy bure tot 65 mm gemeet het. Die reën het goeie toestande geskep om rooibostee te begin plant.

In Namakwaland was die reënval baie wisselvallig. In die suide het boere sowat 15 gemeet, by Garies en omstreke 20 mm tot 30 mm en by Kamieskroon is tot 70 mm gemeet. Op plase in die Kamiesberg het dit selfs meer gereën. Boere op die kommunale grond by Komaggas het 30 mm reën gekry.

- Landbou.com

No comments:

Post a Comment