Tuesday, 19 June 2012

Tragedie speel by oop myngat af

CONCORDIA. – Terwyl honderde hartseer begrafnisgangers Saterdag by die oop grafte van vyf delwers gestaan het, het nog ’n myntreurspel die bedroefde Namakwalandse gemeenskap getref.

Beau Booys (24) en sy vriendin, Roslyn Saal, het na bewering Donderdagaand na ’n nabygeleë uitgewerkte kopermyn op Concordia gegaan, waar hy in ’n myngat van sowat 18m geval het. Hy kon nie gered word nie.

Volgens familielede het Saal ook in die myngat geval en moes die nag daar deurbring voordat hulp opgedaag het. Volgens Pona Emke, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het inwoners naby die myn Vrydagoggend hulpkrete gehoor en hulle na die myn gehaas.

“Hier het Roslyn geskree dat sy onder in die myn vassit en nie kon uitkom nie. Sy het gesê Booys het in die tonnel vol water verdwyn.

“Lede van die GPF het die polisie ontbied. Sy is Vrydag teen 11:00 uit die gat gehaal.”

Die plaaslike polisie en duikers van Upington het Vrydag en Saterdag sonder welslae na Booys gesoek.

Volgens kol. Clive Bowers, stasiekommissaris, was dit te gevaarlik vir die duikers om verder te soek en moes hulle tou opgooi. Die water bevat blykbaar mynsuur wat hul vel erg gebrand het.

Toe Volksblad gister op die toneel kom, was reddingswerkers hard besig om die water met groot pompe uit die gat te pomp.

Booys se ma, Marie Booys (55), het gesê sy het Vrydag om 06:30 van die GPF verneem dat haar seun in die gat geval het.

Sy wou net haar seun terughê, dood of lewend. Booys was ongetroud en het nie kinders gehad nie.

Die soektog na Booys duur voort.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment