Tuesday, 19 June 2012

20% in Gauteng ly honger

Een uit elke vyf inwoners van Gauteng ly soms honger omdat hulle te min geld vir kos het.

Dit blyk uit die Gauteng City Region Observatory (GCRO) se jongste lewensgehalte-peiling waaraan 17 000 Gautengers deelgeneem het.

Die provinsie het ’n telling van 6,25 uit 10 behaal, wat ’n effense verbetering is op die 6,24 van die vorige peiling in 2009.

17% van respondente het in 2009 gesê hulle slaan soms etes oor omdat hulle nie kos kan bekostig nie. Dit het intussen tot 20% toegeneem.

In 2009 het 13% van respondente gesê hulle het nie geld om vir hul kinders kos te koop nie. In 2011 was dit 18%.

Nietemin het Nomvula Mokonyane, Gautengse premier, Vrydag in die wetgewer gesê die peiling toon “Gauteng bly ’n wonderlike plek om in te leef, te werk en te herskep”.

“Die meeste inwoners het ’n hoë lewenspeil,” het sy gesê. “Die internasionale standaard is 5,6%, ons is op 6,25%.”

Uit die peiling het geblyk 37% is ontevrede met die nasionale regering, 44% met die provin­siale regering en 48% met plaaslike regerings. Baie inwoners voel vervreemd van en wantrouig teenoor die regering.

92% van inwoners het lopende drinkwater en 80% woon in baksteen- of betonhuise. Sowat 20% het nie hul eie sanitasiegeriewe nie.

Mense se persepsie oor misdaad het sedert 2009 verbeter en tevredenheid met dienslewering het toegeneem.

In 2009 het byna die helfte van respondente gesê hul grootste bekommernis is misdaad. Dié syfer het tot 35% gedaal.

40% van skoolkinders in die provinsie moet die huis ’n uur voordat die skoolklok lui, verlaat om betyds by die skool te wees.

Prof. David Everatt, uitvoerende direkteur van die GCRO, het gesê Gauteng ís ’n wonderlike woonplek, maar net vir sommige mense.

“As jy in dele van Gauteng woon waar dit goed gaan, leef jy beter as mense in talle ander wêreldstede, maar daar is dele van Gauteng waar dit sleg gaan en as jy daar woon, het jy ’n probleem.”

- Beeld

No comments:

Post a Comment