Tuesday, 19 June 2012

Weer: De Aar vannag koudste in Noord Kaap

18 Junie 2012:

KIMBERLEY. – Die eerste sneeuvlokkies het wel al op Sutherland geval, die koudste dorp in die Noord-Kaap en, volgens baie, in die land.

“Maar dit is nog nie wat ons nou juis as sneeu beskou nie,” sê ’n inwoner van die dorp terwyl die hele provinsie hom begin gereed maak vir ’n koue week.

Veral die nagte gaan koud word, met die kwik wat vannag op verskeie plekke tot onder vriespunt kan daal.

Fyn ysreën het gisteroggend net ’n paar sekondes lank gewaarsku wat moontlik nog kom.

In Kimberley kan mense maar vanaand ekstra komberse uithaal, want die temperatuur kan vannag tot -3°C daal.

Ook Upingtonners kan gereed maak vir ’n koue nag, met ’n voorspelde -1°C.

Dit gaan nóg kouer op De Aar wees, met -4°C.

Die moontlikheid van reën is ook nie uitgesluit nie.

’n Kans van 30% op reën word tot die naweek toe oor die hele provinsie voorspel.

Sneeu word egter nog nie in hierdie stadium verwag nie, sê die weerkantoor.

Ester Jordaan, ’n inwoner van Sutherland, sê die lug was gister op die dorp dig toegetrek en dit was koud.

Sutherland is gewoonlik eerste aan die beurt as sneeu in die Noord-Kaap val en word byna elke jaar in ’n dikke sneeukombers getooi.

Maar vannag gaan Sutherland níé die koudste wees nie.

In teenstelling met Kimberley, De Aar en Upington, gaan dié dorp vannag net -1°C wees.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment