Thursday 12 July 2012

George: Jong man ernstig na brand


Die binnekant van die nuwe aanbouings by 'n huis in Merrimanstraat wat Saterdagaand erg in 'n brand beskadig is. Foto: Lizette da Silva

GEORGE NUUS - 'n Jong man (29) van George is in 'n kritieke toestand nadat hy Saterdagaand ernstige brandwonde opgedoen het tydens 'n brand by 'n huis in Merrimanstraat.

Warren Morton, 'n algemene werker by Garage Doors Deluxe, het eerste en tweede graadse brandwonde opgedoen nadat 'n brand by die huis agter die onderneming uitgebreek het.

Morton was alleen in die woning waar hy tydelik gewoon het terwyl die eienaar van Garage Doors Deluxe, Nico Krynauw besig was met aanbouings aan die huis. Krynauw en sy gesin sou aan die einde van die maand intrek. Hy het vermoedelik vuur in 'n ingeboude braai gemaak waarna 'n harde slag gehoor is.

Nadia Ferreira, die streekwoordvoerder van die Departement van Gesondheid het Dinsdag by navraag gesê Morton is Sondag in die intensiewesorgeenheid van die George-hospitaal opgeneem. "Hy het eerste en tweede graadse brandwonde aan sy gesig, arms en bene opgedoen. Hy het ook vermoedelik in-asemingsbrandwonde. Hy word geventileer en sy toestand is nog kritiek."

'n Buurman, mnr. Tony Elson, het kort na 20:00 'n plof-geluid gehoor en gaan ondersoek instel waarna hy Morton, wat binne vasgekeer was, gesien het. Elson het die veiligheidshek oopgebreek waarna Morton uitgehardloop het.

Dit blyk dat Morton na die voorval, hoewel beseer en erg geskok, buite rondgestaan en praat het, voordat hy 'n terugslag gehad het. Paramedici van Metro-nooddienste was gou op die toneel om hom te stabiliseer en na die hospitaal te vervoer.
Kapt. Bernadine Steyn, die polisiewoord-voerder, sê hulle ondersoek 'n saak van brandstigting.

Forensiese deskundiges van Kaapstad was die week op die toneel om ondersoek in te stel na die oorsaak van die brand.
Krynauw het Elson, hul ander bure, die polisie, George- en Eden-branweer en die Eden Kerk bedank vir hul spoedige optrede en ondersteuning. Krynauw het vroeër die eiendom by die Eden Kerk gekoop waar Morton ook voorheen gebly het.
"Ek is net bly Warren leef. 'n Mens kan die skade altyd vervang, maar nie iemand se lewe nie," het hy gesê.

* A young man from George, Warren Morton (29), is in a serious condition in the George Hospital after he suffered first and second degree burns to his face, arms and legs during a fire at a house in Merriman Street.

ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD JOERNALIS

No comments:

Post a Comment