Thursday 12 July 2012

Man vertel van haai-aanval in Jongensfontein


Jacques Mostert die afgelope week in 'n ligte luim in Life Bayview-hospitaal. Foto: Louise Karsten (Mosselbaai Advertiser joernalis)

JONGENSFONTEIN NUUS - Jacques Mostert, (29) 'n geoktrooieerde rekenmeester van Centurion, is Dinsdag uit die Life Bayview-hospitaal in Mosselbaai ontslaan nadat hy Vrydagaand 6 Julie by Sandstrand in Jongensfontein deur 'n haai aangeval is. Senuwees in sy bobeen en knie is in 'n noodoperasie geheg en daar lĂȘ nog 'n lang pad na herstel vir die jong man voor.

Mostert het branders gery by Sandstrand toe die ongeveer 4 m grootte haai hom aanval. Volgens berigte het hy die haai se swart dorsale vin in die water op hom sien afkom, waarna die haai deur sy branderplank gebyt en die tande in sy linkerbeen en knie vasgeslaan het.

Die haai het hom hierna gelos, weer afgeduik, maar weer om Mostert kom sirkel. Sy vriend De Wet Burger was op die strand ten tye van die aanval en het Mostert te hulp gesnel. Hy het met sy baadjie 'n toerniket om Mostert se been gesit en heel moontlik so sy vriend se lewe gered.

Louis en Shereen Labuschagne, plaaslike inwoners het hul na die strand gehaas en ook die plaaslike NSRI in kennis gestel.

Volgens Rico Menezies, (stasiebevelvoerder, Stilbaai NSRI) kan daar aan die bytmerke op die branderplank vasgestel word dat die haai ongeveer 4 m lank was. Die wydte van die bytmerk op die branderplank is 440 mm in grootte en 278 mm diep. Die tandgrootte is 24 mm en die tussenruimte tussen die buitekant van die tandmerke 75 mm. Tans is dit egter nie seker watter tipe haai vir die aanval verantwoordelik was nie.

Die laaste haai-aanval op Jongensfontein het op 7 Julie 2009 plaasgevind toe 'n branderplankryer, Paul Buckley (37) van Claremont, ook aan sy been gebyt is.

ARTIKEL: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment