Saturday, 21 July 2012

Koue oorlewing


Ongeveer 40km vanaf Victoria-Wes, in die rigting van Beaufort Wes, het twee Mosselbaaiers, onder andere, ‘n baie koue nag in hul motor deurgebring toe sneeu onverwags die paaie onbegaanbaar gemaak het. Hier kan die diepte van die sneeu, wat klipharde ys gevorm het, duidelik gesien word.

MOSSELBAAI NUUS - Dit sou 'n gewone reis van Mosselbaai na Bloemfontein wees om kinders terug te neem skool toe na die wintervakansie.

Toe tref een van die swaarste sneeustorms laas week die Karoo en twee Mosselbaaiers, Hannes Maritz-Graaff en Tommie Graaff moes nie net 'n nag in minus-temperature deurbring nie, maar uiteindelik 'n 1 000+ km ompad ry om uiteindelik weer veilig op die dorp te kom.

Hannes noem dat sy tweeling na die vakansie terug moes gaan skool toe. Op pad terug Mosselbaai toe, omstreeks 09:30 op Saterdagoggend merk hulle op Bloemfontein op dat dit liggies begin sneeu. Die pad is lank en hulle trek nietemin met goeie moed weg, want Mosselbaai lê nog wyd.

By Richmond het die eerste probleme ontstaan toe die SA Polisie hulle meedeel dat die pad vorentoe gesluit is. Hulle vat toe maar die pad Victoria-Wes om, net om in die sneeu vasgekeer te word toe 'n vragmotor dwars oor die pad voor hulle beland het, en hulle vasgevang is in die verkeer wat daarom opgehoop het.

Tommie sê die ergste was om vasgekeer te wees met net een warm duvet om hulle teen die snerpende koue te beskerm. Gelukkig was sy kinders darem veilig by hul skool. Daarbenewens het niemand hulp gestuur of selfs net met inligting oor padtoestande of vordering met die verwydering van die vragmotor gehelp nie.

Na 'n nag waarin hul asems 'n yslaag aan die binneruite van die motor veroorsaak het, het die mense mekaar stadigaan begin help om die voertuie omgedraai te kry sodat hulle die pad terug tot in Victoria-Wes kon volg.
Uiteindelik is die middelmannetjie, wat letterlik gevries het, op 'n paar plekke met 'n byl in stukke gekap om motors met 'n laer grondvrye hoogte toe te laat om om te draai.

Selfs daarna, op die pad na Fraserburg, was daar plek-plek te midde van 'n wolklose dag hompe sneeu in die middel van die pad, die stille getuienis van 'n vragmotor vol sneeu wat deur 'n knikkie in die pad van die sneeu afgegooi het.

- Mosselbaai Advetiser

No comments:

Post a Comment