Friday, 28 September 2012

Dele van Boland en Helderberg steier ná wolkbreuk en hael.

KAAPSTAD. – Swaar reën, ’n wolkbreuk en selfs hael het gister dele van die Boland en die Helderberg-omgewing (Gordonsbaai, Somerset-Wes en die Strand) geteister.

In die Boland het ’n inwoner beskryf hoe die hemel net ná 15:00 oopgemaak het en die hael en swaar reën byna twee uur lank aaneen uitgesak het.

Tobie Brummer van die plaas Bloemendal het beskryf hoe hy kniediep in water moes stap en hoe die swaar reën die olyfbome verrinneweer het. “Vanmiddag toe ek by die venster uitloer, toe skrik ek, want toe kom die stroom water af.”

Brummer het gister op die plaas 23mm binne ’n halfuur gemeet. “’n Mens kan dit nie beskryf nie.”

’n Amptenaar by die beheerkamer van die stad se verkeers-departement het gisteraand gesê Frans Conradie- en Kerkstraat in Kraaifontein sowel as Okavangoweg in Uitsig naby Brackenfell het oorstroom en is gevolglik vir padgebruikers gesluit.

Cobus Germishuys, ’n wyn-konsultant op die plaas Muldersbosch langs die Polkadraai-pad, het gesê die hael het omtrent 2cm dik op die plaas gelê.

Germishuys het gisteroggend sy reënmeter by sy huis in die Strand leeggemaak en het ná die swaar neerslag gistermiddag 43mm gemeet.

“Op die plaas kan jy nie glo hoeveel water hier geval het nie... dis chaos.”

Germishuys het gesê die hael en swaar reën het ook sekere dele van die plaas se infrastruktuur en die teerpad na die plaas beskadig. “Die grondpaaie is ook verspoel,” het hy gesê.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment