Friday 14 September 2012

Swartbergpas weer oop


SUID-KAAP NUUS - Die Swartbergpas is vandag heeltemal oopgestel vir verkeer nadat dit vir drie maande gedeeltelik gesluit was vir noodsaaklike onderhoudswerk.

“Die pas was weekliks van Maandae tot Donderdae gesluit vir onderhoudswerk aan die padoppervlak,” het Kobus Theron van die Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit gesê. Die pas is oor naweke oopgestel vir verkeer.

Die onderhoudswerk is hoofsaaklik gedoen op ‘n stuk pad van sowat 2,5km aan die Prins Albert-kant van die pas waar die pas die afgelope paar jaar sleg deurgeloop het ondervloedskade.” Daar is nie aan strukture gewerk nie.

Die koste van die onderhoudswerk beloop sowat R1,5miljoen. Nog werk deur die Provinsiale Administrasie op ‘n kontrak ter waarde van sowat R2.1miljoen is ook bykans voltooi. Die kontrak het herstelwerk an keermure en verbeterings van die dreineringstelsel ingesluit.

Nog ‘n inisiatief wat deur die Departement van Omgewingsake in samewerking met die provinsiale Departement van Vervoer aangepak sal word, word nog beplan. Dié projek sal onder meer werk aan die klipmure insluit.

Staalnette en keermure wat teen steil berghange langs paaie en in passe aangebring is, het tydens winterstorms gesorg dat geen verdere rotsstortings voorkom nie.

Die nette is as voorkomende maatreël teen die onstabiele hellings langs die pad tussen Oudtshoorn en George, in die Outeniquapas en in die Huisrivierpas aangebring word om rotsstortings te voorkom.

“Ons wil die departemente bedank wat ons ‘n jaar gelede in ons tyd van nood bygestaan het toe Oudtshoorn deur rotsstortings van die buitewêreld afgesny is,” sê Piet Lodder, hoofbestuurder van Agri Klein Karoo. “Die werk wat hulle gedoen het is van onskatbare waarde en ons wil he hulle moet weet ons waardeer dit.”

ARTIKEL: TISHA STEYN

No comments:

Post a Comment