Friday 12 October 2012

Mosselbaai NSRI in nuwe hande


MOSSELBAAI NUUS - Daar is 'n nuwe stuurman aan die helm; André Fraser het onlangs as stasiebevelvoerder van die Mosselbaai NSRI by Dawie Zwiegelaar oorgeneem.

Fraser, wat vantevore ses jaar in hierdie amp gedien het, is onlangs verkies nadat Zwiegelaar die afgelope 12 jaar Mosselbaai se NSRI op koers gehou het.

Zwiegelaar se ideaal om die Breede Klas reddingsboot vir Mosselbaai te bekom, word eersdaags bewaarheid wanneer die boot na verwagting teen einde Oktober hier in ontvangs geneem sal kan word. Die Breede Klas reddingsboot is 'n doelgemaakte reddingsvaartuig wat veral langafstand redding sal vergemaklik, en veral noodsaaklik is in ag genome die feit dat Mosselbaai die enigste NSRI hawe-stasie tussen Port Elizabeth en Hermanus is.

Dis veral die kameraderie tussen NSRI vrywilligers wat Zwiegelaar uitsonder as die hoogtepunt van sy termyn as stasiebevelvoerder. "Ek kan alleen met dankbaarheid van die samewerking tussen die mense van Mosselbaai; die publiek en besighede, en die NSRI praat en wil my dank en waardering uitspreek vir almal se ondersteuning", sê hy.

Fraser sê dis bemoedigend dat soveel jonger manne hulle vrywillig aanmeld as NSRI lede. "Die genoegdoening wanneer jy iemand se lewe kon red, of 'n boot of vaartuig uit die moeilikheid uithelp, maak elke bietjie opoffering oor en oor die moeite werd!"

Hy doen ook 'n beroep op die Mosselbaai gemeenskap om baie oplettend te wees en om kwaliteit inligting oor voorvalle ter see of op binnelandse waters so gou as moontlik deur te gee.

"Hoe gouer ons van 'n voorval weet en hoe meer volledig die inligting oor die voorval is, soos presies waar die probleem opgeduik het, of hoeveel mense betrokke is, hoe gouer kan ons reageer en hoe groter is die kans dat ons sukses met die reddingspoging sal behaal."

Oor die afgelope naweek se opleiding is beide mans dit eens dat daar baie geleer en gedeel is. Veral die jonger lede het vaardighede aangeleer wat hulle deeglik in 'n reddingsoperasie sal kan aanwend.

Fraser beklemtoon dat die NSRI 'n vrywilliger organisasie is wat sterk steun op die publiek se volle ondersteuning. Fondswerwing is 'n deurentydse taak wat hulle baie ernstig opneem. Hy bedank graag die publiek en veral Mosselbaai se sakegemeenskap vir hul bydraes tot die sukses van die plaaslike NSRI.


Die korrekte gebruik van ligfakkels is gedemonstreer, waarna 'n paar afgevuur is. Foto: André Fraser

ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment