Friday 12 October 2012

Welkome reën dalk op pad


Dorre aarde. ’n Landskap by Virginia in die Vrystaat.Foto: Conrad Bornman

WELKOME reën kan die naweek in die Vrystaat en Noord-Kaap val.

Met die ondergemiddelde reënval wat vir die somer voorspel word en vrese oor boere se oeste, kan die verwagte reën die naweek bietjie verligting bring.

Sihle Kunene van die Bloemfontein-weerkantoor sê reën word vandag in die Oos-Vrystaat verwag. Sondag kan reën in die meeste dele van die Vrystaat en die oostelike gedeelte van die Noord-Kaap voorkom.

Die vooruitsig vir reën op lang termyn lyk egter nie so goed nie.

Luidens ’n verklaring wat vroeër deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik is, word onder-normale reënval in gedeeltes van Noordwes, die Noord-Kaap en Vrystaat vanaf Oktober tot Desember verwag.

Ondergemiddelde reënval wat die somer voorspel word, kan van die moontlike gevolge van ’n El Niño-weerverskynsel wees.

Johan van den Berg, bestuurder van gespesialiseerde gewas-versekering by Santam, sê ’n swak El Niño-weerverskynsel is sedert Junie waargeneem voordat ’n terugkeer na normale seeoppervlak-temperature in September voorgekom het. Die moontlike herontwikkeling van ’n swak El Niño-weerverskynsel word later in die seisoen tot Maart/April verwag.

Somer-oesproduksie in die sentrale tot westelike gedeeltes van die land maak staat op water wat geberg is in die gedeelte van die grond waar wortels skiet (rooting zone). Op die oomblik is grondwater relatief laag en moet daar nou staatgemaak word op reënval gedurende die produksie-seisoen.

“Met lae vlakke van opgehoopte reënval in die Vrystaat en Noordwes, kan oesproduksies in dié streke onder druk wees.”

Van den Berg sê hoewel die teenwoordigheid van dié El Niño-weerverskynsel die moontlikheid vir droogte en ander ekstreme klimaatsgebeurtenisse (soos ryp en hael) versterk, is dit geensins ’n waarborg nie.

“’n Mens moet ook in ag neem dat ’n El Niño-gebeurtenis gewoonlik vroeë somerreënval oor Suid-Afrika stimuleer, maar die moontlikheid van reën in die middel tot laat somer, veral oor die sentrale tot westelike gedeeltes, verswak.”

Van den Berg sê met die afwesigheid van tropiese siklone, was El Niño-verskynsels in die verlede ook verantwoordelik vir reën in die kritieke Februarie-tydperk wanneer somergraanoeste op sy kwesbaarste vir droogte is.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment