Saturday 27 October 2012

Noue ontkoming na swaar reën in Mosselbaai distrik


Dr Honey Ferreira se Jeep Grand Cherokee is afgeskryf. Die Jeep is Dinsdag uit die water gesleep.

MOSSELBAAI NUUS - Drie mense het die impak van die groot hoeveel reën die afgelope naweek aan hulle voete gevoel, toe die Jeep Grand Cherokee waarmee hulle gery het, van 'n laagwaterbrug op die Kleinplaaspad in die rigting van Jonkersberg, deur die water meegesleur is.

Die bestuurder, Dr Honey Ferreira, sy vrou Natalie en sy skoonma Liz was op 'n uitstappie en het die agterpaaie in die rigting van die Eight Bells Gastehuis gery, toe hy die krag van die water by 'n laagwaterbrug by die Vawringrivier onderskat het.

Daar was nie merkers op die brug om die stygende waterstroom aan te dui nie. Honey, wie oorspronklik van George is, sê die stroom was baie sterk en hulle is meegesleur.

"Ons het op 'n sandbank vasgesit en die vensters oopgemaak en op die dak geklim. Almal het kalm gebly, maar ons het geweet ons moet van die dak afkom."

Hulle het toue aan die dak vasgemaak en Honey het sy broer gebel en gesê hulle gaan nou in die water spring en hy weet nie wat verder gaan gebeur nie.

"Ons het ingespring en omtrent 50m met die stroom afgedryf voor ons dit kon regkry om na die kant van die rivier te swem."

Verbygangers het hulle oomblikke later te hulp gesnel. Al drie is ongedeerd.

ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment