Saturday 27 October 2012

Swaar reën vir Agri Klein-Karoo

Swaar reën die afgelope naweek het riviere in die Klein-Karoo sterk laat afkom. In Oudtshoorn het die Grobbelaarsrivier wat hier oor Kerkstraat stroom, verkeer ontwrig toe verskeie strate gesluit moes word. Foto: Hannes Visser

OUDTSHOORN NUUS - Verskillende riviere in die Agri Klein-Karoo Distrikslandbouvereniging (DLV) is in vloed na swaar reën die afgelope week, maar geen voorvalle van lewensverlies is aangemeld nie.

'n Man het Sondag 'n noue ontkoming gehad toe hy by die Sanddrift-laagwaterbrug oor die Kammanassierivier 'n waarskuwingsbord geïgnoreer het en in die vol rivier beland het.

Volgens Wayne Young, senior brandweerman op Uniondale, wat die voorval hanteer het, het Ernest Isatsensane, 'n bouer van Brits, glo "'n kans gevat" en probeer om die rivier wat sowat 'n meter diep oor die laagwaterbrug geloop het, oor te steek. Isatsensane is ongedeerd, maar die Toyota-bakkie waarmee hy gery het, is erg beskadig.

'n Haelstorm wat Sondag oor 'n strook van sowat 200 m by die Hartebeesrivier-afdraai geval het, het verkeer op die N9 tydelik ontwrig. Volgens Young het haelkorrels so groot soos ertjies op plekke tot 'n half meter diep gelê. 'n Swaar bui reën het ook uitgesak. Volgens MC Loock is sewe van sy ooie en drie lammers wat in die leegte naby die rivier skuiling gesoek het teen die reën, meegesleur en het versuip.

"Die Gesamentlik Operasionele Sentrum (GOS) het goed funksioneer en ons gaan dit behou en verfyn vir toekomstige optrede tydens rampe," het Dave Hodgson, voorsitter van Agri-Avontuur, gesê.

Volgens hom is ernstige skade aan damme voorkom omdat die boere voorbereid was op die reën. "Ons het Vrydag 'n waarskuwing van Gerhard Otto van Eden Rampbestuur ontvang dat 100 mm reën verwag kon word, en boere het voorsorg getref deur water uit damme te laat loop of vloedwater af te keer." Dit het tussen 83 en 105 mm gereën.

Paaie tussen De Hoop en Bo-Kouga is in 'n slegte toestand weens die baie reën die afgelope tyd in die gebied.
Volgens Cavert Barkhuizen, voorsitter van Agri Bo-Kammanassie, is die brug op die hooftoegangspad na Noll beskadig en die pad is gesluit. "Daar is 'n ompad, maar dit is smal en bome versper die uitsig om 'n draai. Die situasie is gevaarlik omdat swaar vragmotors en skoolbusse die ompad moet gebruik."

Van die reënvalsyfers vir Agri Klein-Karoo lyk so:
Avontuur: 105 mm, Bo-Kammanassie: 60 mm, Calitzdorp: 35 mm, De Rust 34 mm, Swartberge: 70 mm, Herold: 35mm, Waboomskraal: 100 mm, Langkloof: 70 mm, Kango-Valleie: 60 mm, Ladismith: 40 mm, Uniondale: 93 mm, Oudtshoorn: 40 mm.

Die Olifantsrivier is in vloed en die Kammanassierivier kom sterk af. Die Rooiheuwel-pad was Maandag gesluit en 'n ompad oor Dysselsdorp moes gebruik word.

Die Stompdrifdam het 77 persent water en die Kammanassiedam loop oor.

Volgens Jan Weys, besturende direkteur van Tuinroete Agri-landboubesigheid, het graangewasse in Agri Hessequa skade gely weens die reën.

"Heelwat oesskade is veral aan die garsoes wat vir moutgars bestem was aangerig," het Weys gesê. "Die klammigheid het veroorsaak dat die gars begin uitloop. As dit nie begin muf nie hoop ons dit kan nog as voergars verkoop word."

Gesnyde hawer het ook begin uitloop. Die koringoes is ook in gedrang. "Die kwaliteit van die koring sal moontlik af wees, maar ons hoop steeds op goeie volumes. Vrugteboere het die reën verwelkom."

ARTIKEL: TISHA STEYN - Oudtshoorn Courant

No comments:

Post a Comment