Friday 19 October 2012

Opvolg: Brandweer akademie vir Eden


'n Verteenwoordiger van Hilti Tools, Ferdi, demonstreer die vermoëns van gespesialiseerde toerusting wat gebruik kan word om deur beton te breek.

MOSSELBAAI NUUS - Daar word hard gewerk aan 'n volwaardige Brandweer Akademie op Mosselbaai, wat internasionaal erkende kwalifikasies vir brandweerpersoneel in die Eden Distrik sal kan aanbied.

Gesprekke met die SAQA (South African Qualifications Authority) en PetroSA vorder goed en 'n perseel is reeds geïdentifiseer.

Mnr Gerhard Otto van die Eden Distriksmunisipaliteit berig dat mnr Lester Smit, die hoof van brandweerdienste van die Eden Distriksmunisipaliteit, opdrag gegee is om die Brandweer Akademie op Mosselbaai te vestig. Na wat verneem word, is daar reeds geriewe vir 'n lesinglokaal en barakke geïdentifiseer, terwyl verdere gesprekke oor infrastruktuur sal volg.

Dit sal die enigste brandweer akademie tussen Port Elisabeth en Kaapstad wees en die plaaslike owerhede van veral die Suid-Kaap bedien. Boonop sal personeel en skoolverlaters by hierdie akademie kwalifikasies kan bekom wat internasionaal erken word.

Nooddienspersoneel het die afgelope paar weke intensiewe opleiding in verskeie tegnieke op Mosselbaai ontvang.

Twee gekwalifiseerde opleiers vanaf Kaapstad het die noodpersoneel van die Eden distrik se opleiding hanteer. Beide Donny Dunn en Fabian Hoffman, die twee opleidingsbeamptes, het bevestig dat 'n opleidingsfasiliteit op Mosselbaai vir die hele streek 'n bate sal wees en dat dit die kapasiteit in die Eden distrik sal bou.



Nooddienspersoneel oefen op Mosselbaai met gespesialiseerde toerusting om hul vaardighede om deur beton te breek, te vervolmaak.

ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment