Friday 19 October 2012

Waarskuwing: Krokodille in Klein-Brakrivier

Hierdie krokodil is deur die SJB ongeveer 13km van 'n vakansieoord in Klein-Brakrivier gesien. Foto: Neels Meyer

MOSSELBAAI NUUS - Minstens ses Nylkrokodille is die afgelope drie maande deur die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) in die bo-lope van die Klein-Brakrivier gesien.

Een van die krokodille was glo bykans 2.5m lank.

Die vermoede bestaan dat die krokodille hulself al 'n geruime tyd in die Palmiet-, Haalkraal- en Koumarivier gevestig het. Dié riviere mond uit in die Klein-Brakrivier.

Daar word beweer die krokodille is afkomstig van 'n naby geleë plaas wat eens 'n krokodilplaas was en tydens vloede oorspoel het. Hoewel inwoners al geluide van moontlike krokodille in die rivier gehoor het, is dit bevestig toe 'n werknemer van Eskom onlangs op een van die krokodille afgekom het en 'n selfoonfoto aan SJB gestuur het.

"Ek wou dit eers nie glo nie. Ons het gaan kyk en kry toe wraggies 'n krokodil in 'n sykloof ongeveer 13km van 'n vakansieoord in Klein-Brakrivier," sê mnr Neels Meyer, voorsitter van die SJB.

"Dit is belangrik om te bepaal hoeveel krokodille in die sisteem teenwoordig is, terwyl daar ter selfde tyd aandag gegee word aan metodes om die krokodille te verwyder, sê die bewaringsdienste bestuurder van Cape Nature Tuinroete, mnr Barend le Roux.

Gedurende Junie 2011 is die aanwesigheid van krokodille in die Brandwagomgewing aan Cape Nature gerapporteer. Na 'n ondersoek kon die aanwesigheid van krokodille egter nie bevestig word nie.

Volgens Le Roux is daar in Augustus 2012 'n krokodil in die Meulrivier gesien en met 'n vanghok probeer vang. "Dit was egter onsuksesvol en 'n permit vir die skiet van die krokodille is aan drie oewer eienaars uitgereik." Hy vra inwoners om nie paniekerig te raak nie, maar bewus van die krokodille in die rivier te wees.

Die Crocodylus niloticus is 'n beskermde dier en mag nie sonder 'n permit geskiet word nie.

"Hoewel dit 'n beskermde spesie is, word dit nie as inheems tot die area geklassifiseer nie," sê Meyer. Volgens hom is daar skaars en bedreigde inheemse visspesies in die rivier, wat deur hierdie reptiele bedreig word.

Intussen het Dr Michele Gratz van die Mosselbaai Munisipaliteit 'n waarskuwingspamflet aan plaaseienaars in die omgewing uitgereik, waarin die publiek gemaan word om uiters versigtig in die omgewing van riviere en damme te wees.

Die SJB is ook genader om die probleem te help aanspreek en het reeds verskeie dele van die riviere gefynkam.
Meyer sê inwoners moet nie plase betree in 'n soektog na die diere nie.

"Die Nylkrokkodil is 'n opportunistiese voorlêjagter wat nie net prooi vang wanneer dit honger is nie, maar instinktief reageer wanneer beweging naby is en uiters gevaarlik en aggresief is."

Boere, plaaswerkers en veral kinders wat in die rivier swem moet versigtig wees, sê Meyer.

Volgens Le Roux sal krokodille hier kan oorleef oor die beskikbaarheid van kos in die riviersisteme, asook die gematigde temperatuur. Indien jy 'n krokodil gewaar, kan jy Cape Nature kontak by 044 802 5300, die Mosselbaai Munisipaliteit by 044 606 5210 of die SJB by 044 695 2319.


Die krokodille is goed gekamofleer. Foto: Neels Meyer.

ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment