Tuesday 29 January 2013

Brandweer spook teen vlamme in Kaap

Kaapstad – Inwoners van die Paarl in die Wes-Kaap is gevra om hul huise te ontruim nadat veldbrande huise in die gebied verwoes het, berig die eNCA-nuuskanaal.

Die radiostasie 567 Cape Talk berig die brand het oornag sommige plase bereik en in die rigting van die N1 versprei.

Roysten Harris, stasiebevelvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens, het aan Die Burger gesê die plase De Hoop en Edenvale buite die Paarl is bedreig.

Verkeersowerhede het intussen gesê die R301 tussen die Paarl en Wemmershoek is weens die brand gesluit.

Die brand in die Sederberge in die Wes-Kaap is egter onder beheer, het Werk met Vuur Dinsdag gesê.

Linton Rensburg, woordvoerder, het gesê die groot bekommernis is in die Franschoek-gebied.

"Ons werk heeldag. Ons het helikopters met waterbomme ontplooi."

Hy het gesê vyf spanne van die Oos-Kaap en die Vrystaat is ingespan en vyf ander spanne is op bystand.

Altesaam 14 Werk met Vuur-spanne is na brande in verskeie gebiede in die Wes-Kaap ontplooi, het die organisasie Maandag gesê.

Werk met Vuur is 'n werkskeppingsprogram van die regering wat bystand aan plaaslike owerhede verleen om veldbrande wat eiendom en lewens bedreig, in bedwang te bring, het Rensburg gesê.

"Die spanne het die afgelope agt weke hard gewerk in die Wes-Kaap."

Die spanne is ontplooi na brande in die Sederberge naby Clanwilliam, Franschoek, Tulbagh en in die Uniondale-gebied in die Eden-distrik.

Meer as 25 000 hektaar weiveld is reeds in Clanwilliam verwoes.

'n Brand wat buite Franschhoek in die Wes-Kaap ontstaan het, het ’n denneboomplantasie bo die Wemmershoekdam vernietig, het Landbou.com Maandag berig.

Volgens Antwan Bondesio, wynmaker by die Maison-landgoed, is helikopters reeds sedert Sondag besig om die vlamme te probeer blus.

Brandbestryders het intussen Maandag gespook om 'n rits ander brande in die Skiereiland onder beheer te bring. Veldbrande is ondermeer in Macassar en Killarney Gardens aangemeld, berig Die Burger.

Ander veldbrande is in Atlantis, Eersterivier en op die Ou Mamre-en Darlingpad aangemeld, asook in Ocean View, Akasiapark, Sir Low-ryspasweg, Fountain Village in Blue Downs, Belhar, Strandfontein en Kuilsrivier.

Brandbestryders was nog laat Maandagaand op die toneel naby Killarney Gardens en Morningstar langs die N7.

'n Man het Maandagoggend in Guguletu gesterf toe ’n brand in NY108 in die Barcelona- informele nedersetting uitgebreek het.

Nóg 'n brand het klaskamers by die Adult Learning Centre in 15de Laan in Elsiesrivier beskadig. Niemand is beseer nie. 'n Brand by 'n slaghuis in Stasieweg, Bellville, is ook omstreeks 18:45 by die brandweerdienste aangemeld.

- SAPA/Nuus24

No comments:

Post a Comment