Monday 21 January 2013

Opvolg: Vloede in Suid Afrika (21 Januarie 2013)


18h00 - Sowat 200 mense wat op plase in die Musima-gebied in Limpopo woon is na 'n hoërliggende gebied verskuif nadat die Limpopo-rivier sy walle oorstroom het. Hulle is per helikopter na 'n lodge geneem waar paramedici hulle ondersoek voordat hulle in die hospitaal op Musina opgeneem word. Soek- en reddingspanne van die Weermag en die polisie is saam met paramedici ontplooi om mense op te pik. Drie helikopters word gebruik.

Swaar reën het intussen oor die afgelope paar dae in Limpopo uitgesak wat honderde duisende rande se skade aan die plase aangerig het. Die adjunkpresident van Agri SA, Theo de Jager, sê produksie het tot stilstand gekom aangesien boere en werkers nie by die boorde kan uitkom nie....

16h00 - Die owerheid in die noorde van Limpopo en Mpumalanga het mense gewaarsku om veral laagliggende gebiede te vermy aangesien nog oorstromings voorspel word. Die Polisie, die Weermag en Nasionale Rampbestuur monitor die situasie op die oomblik. Intussen word die soektog na die liggame van twee kinders wat vermoedelik in 'n stroom tussen Musina en Pondrift in Limpopo verdrink het, voortgesit. Die motor waarin hulle oppad was na Musina het van 'n brug afgespoel en in die Mapedu Rivier beland. Drie mense, insluitende die ma van die twee kinders, het oorleef en die liggaam van een volwassene is naby die wrak gevind. Intussen gaan die ontruiming van honderde mense wat vasgekeer is deur die oorstroming van die Limpopo-rivier buite Musina, steeds voort. Nooddienste en weermaghelikopters is op die toneel. Minstens ses mense is ook in die Laeveld gebied van Mpumalanga dood in die afgelope dae se uiterste weerstoestande. By Nkomati het drie mense vermoedelik in vloedwater verdrink, maar ses ander kon gered word. In nog 'n voorval is drie mense dood toe hulle deur weerlig getref is. Die LUR vir die provinsiale departement van Samewerkende Regering, Madala Masuku sê hulle is op 'n hoë gereedheidsgrondslag.

- RSG Nuus

No comments:

Post a Comment