Thursday 7 June 2012

Brand: Held vertel


Kallie Hoffman staan gister voor die venster waarvan hy die diefwering met sy hande afgebreek het om Adri Jordaan se lewe te red. Foto: Loanna Hoffman

Die held wat ’n venster se diefwering oopgebuig en ’n tienermeisie uit die vlamme van haar ouerhuis gered het, het ook ’n baba deur ’n venster gered wat in die harwar vergeet is.

Kallie Hoffman (32) het Sondag in die vroeë oggendure wakker geword van die 14-jarige Adri Jordaan se hulpkrete. Haar ouerhuis in Kocks-oord, Randfontein, was aan die brand.

Hy het die huis se deur oopgeskop, maar kon weens die vlamme nie by haar kamer uitkom nie. Toe het hy eers al die volwassenes in die huis wakker gemaak en na buite gelei.

Daarna is hy terug na Adri se kamervenster. Hy het die diefwering met sy hande weggebuig, maar sê hy weet steeds nie waar dié krag vandaan gekom het nie.

Adri se lyf was so warm dat van sy hare vanweë die liggaamshitte geskroei het. “Die kind was so warm, jy kon glad nie met jou hande aan haar vat nie. Daai kind was ontsettend warm,” het hy gesê.

Hoffman het sy baadjie gebruik om haar arms te gryp en haar by die venster begin uittrek, maar toe “haak haar voetjie vas”.

Hoffman het haar toe maar met kaal hande gegryp en uit die brandende kamer gepluk. “Al wat deur my kop gegaan het, is dat ek haar net daar wil uitkry.”

Adri het 87% brandwonde opgedoen en haar toestand was gister nog kritiek, maar stabiel.

Die volwassenes in die huis was haar ma, Nicolene (31), en stiefpa, Tommy Dickson (30), asook haar biologiese pa, Jaco Jordaan (34), en sy vrou, Suzie (21).

Jaco en Nicolene se dogters Salome (11) en Tanja (4) en Tommy en Nicolene se seun Armand (2) het in die brand gesterf. Jaco en Suzie se seun Jacques (3) het dit oorleef.

Die volwassenes het in ’n rookbedwelmde toestand klaarblyklik vergeet van die nege maande oue Thomas, Nicolene en Tommy se kind.

Hoffman het gister gesê die volwassenes was reeds in ’n diepe slaap toe hy hulle wakker gemaak het, vermoedelik weens rookinaseming.

Hy het gesê hy het Thomas deur die venster in sy bedjie sien lê en hom deur sy ouers se kamervenster gered. Daar was nie diefwering voor dié venster nie.

“Ek sidder om te dink wat sou gebeur het as ek nie besef het dat die huis aan die brand is nie. Dalk sou hulle nou almal dood gewees het.”

Hy wou teruggaan vir die ander kinders, maar teen daardie tyd was dit te laat. Hy het sowat 20 minute later deur ’n ander venster gesien wat van klein Tanja oor is.

Hoffman, ’n motorwerktuigkundige in Jordaan se diens, woon die afgelope agt maande saam met sy vrou, Gerda (36), en seun, Donovan (5), in ’n buitekamer op die erf.

- Beeld

SAWDOS: Kallie verdien n medalje vir dapperheid.  Die SAWDOS vertrou dat hy genomineer sal word vir 'n toekenning vir die helde daad.  

No comments:

Post a Comment