Hearn Johnson (18) met die hidrouliese arm wat hy self ontwerp en gebou het. Die arm kan tot 40?kg optel. Foto: Cornél van Heerden
Hearn Johnson het die idee vir die hidrouliese arm wat hy self ontwerp en gebou het, gekry toe iemand wat hy ken in ’n rooftog geskiet is.
“My vriend se pa kon ná die skietery nie sy arm beweeg nie, toe maak ek ’n grap en sê vir hom hy moenie bekommerd wees nie, ek sal vir hom ’n nuwe arm bou,” het dié 18-jarige uitvinder gesê.
Hy het in sy pa se werkwinkel by hul huis in Henley on Klip aan die werk gespring om die arm te ontwerp en te bou.
“Ek het baie tyd saam met mense wat prostese bou, deurgebring om vas te stel wat die beste ontwerp sal wees.”
Johnson het onlangs van die VSA teruggekeer waar hy ’n derde plek in die meganiese kategorie van die Intel-Isep- ekspo vir jong wetenskaplikes met sy hidrouliese arm behaal het.
“Ek beskou myself as ’n uitvinder; wetenskap is my lewe.”
Maar selfs al het Johnson hom al op internasionale vlak bewys, het hy nie vanjaar universiteitstoelating vir ingenieurswese gekry nie.
Hy het verlede jaar aan die Hoërskool Drie Riviere in Vereeniging gematrikuleer met 64% vir wiskunde en 68% vir wetenskap.
Johnson het egter sy hidrouliese arm by die Universiteit van Johannesburg (UJ) ten toon gestel en sal hopelik vandeesweek hoor of hulle vir hom ’n spesiale vergunning sal maak.
Johnson het gesê as hy nie aanvaar word by die UJ nie, gaan hy huil.
“Die dag as ek my graad het, sal ek ’n meganiese ingenieur wees, maar tot dan is ek net ’n uitvinder.”
Die hidrouliese arm kan tot 40 kg optel en het ’n batterylewe van drie uur.
Die vingers van die hand wat aan die arm geheg is, kan buig en uit mekaar sprei.
Die arm word deur ’n eksterne kontrole beheer en kan van appels tot klein skroefies optel. “Ek wil eintlik hê die arm moet in staat wees om ’n bal te vang of my te help juggle.”
- BEELD
No comments:
Post a Comment