Monday, 30 January 2012

Brand woed steeds by Stanford

STANFORD. – Die inwoner van ’n kothuis op ’n plaas hier naby moes dit ontruim en helikopters en brandweerwaens het gister van vroegoggend af in en oor die dorp gedreun soos brandspanne onverpoos teen ’n massiewe bos- en veldbrand in die Kleinrivierberge geveg het.

Die brand het Saterdag omstreeks 11:00 in ’n beboste gebied in Thesselaarsdal ontstaan voordat ’n sterk wind dit bo-oor die Kleinrivierberge in die rigting van Stanford aangedryf het.

Mnr. Craig Templar van die plaas Blue Moon het aan Die Burger gesê Saterdagaand is ’n rooi gloed oor die rante gesien, maar die volgende oomblik was dit net vlamme oor die hele berg.

“Die vuur het verskriklik vinnig aangekom, maar die brandweer het ons verseker hulle hou die situasie dop. Vanoggend was die rookwolk so dig, niemand het geweet waar dit brand nie.”

Die lug was so erg besoedel dat motors se hoofligte aangesit moes word en ’n dik bruin rookwolk het besoekers aan Stanford gister reeds buite Hermanus begroet.

Templar se buurman, mnr. Russel Metcalf, moes inderhaas sy kothuis ontruim toe benewens die brand ook bye van byekorwe daar naby ’n bedreiging ingehou het. Toe Die Burger die plaas besoek het, was hy en sy vriende inderhaas besig om meubels uit die kothuis te dra en wou hy geen kommentaar lewer nie.

Mnr. Pierre Rossouw van die Motherly Moony-kunsgalery het gesê hy is net bly niemand het tot dusver seergekry nie.

“Maar ’n mens voel nie lekker as dit so na aan jou lyf kom nie. Ons is maar bekommerd oor ons vriende op die plase. Nogtans is veldbrande nie altyd negatief nie – ek hoop daar kom iets goeds uit hierdie een.”

Mnr. Riaan Jacobs, brand­weerhoof van die Overstrand-munisipaliteit, het van gisteroggend vroeg al ’n operasionele sentrum op die Sir Robert Stanford-landgoed net voor die dorp laat beman.

Teen gister omstreeks 15:00 moes brandweerspanne spook om die wingerde van dié landgoed te beveilig.

Vroeër moes verkeersowerhede die R43-pad ’n ruk lank monitor, en is daar oorweeg om die pad te sluit omdat die brand, wat in die nag bo-oor die berg beweeg het, teen die hange van die Kleinrivierberge af versprei het.

“Dit is moeilik om hierdie brand langs die pad te bestry. Daar is digte bloekombosse en dennehoutplantasies. Daar is ook fynbos en ou veld wat erg brand,” het Jacobs aan Die Burger gesê. ) Teen druktyd het die wind suidwes begin waai en het die vlamme na Thesselaarsdal teruggedraai. Die brand het opgevlam aan die voet van die Kleinrivierberge en in die rigting van Caledon versprei. Geen mense of geboue is bedreig nie.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment