Friday 20 January 2012

Droogte knel Noord-Kaap se boere

KIMBERLEY. – Boere wat verlede jaar breed geglimlag het oor die baie reën wat toe in Januarie uitgesak het, staan nou toue by koöperasies om bykomende voer te koop vir vee wat weens droogte nie genoeg weiding het nie.

Mnr. Johan van Rensburg, uitvoerende hoof van AgriNoord-Kaap, sê: “Ons het gehoop op aanhoudende reën en die tekens was aanvanklik belowend. Die bietjie wat ons kry, is sporadies. Die hittegolf van verlede week het die situasie vererger. Boonop het veldbrande die bietjie weiding wat daar was, verwoes.”

Mnr. Brand du Toit, wat tussen Williston en Brandvlei met dorpers boer, het nog geen reën sedert die begin van die winter gehad nie.

“Ons moet nou kwaai begin voer. Dit is ’n baie groot geldelike uitgawe. Ons voer nou mielies en lusern uit Prieska en Upington.

“Die skape moet in Februarie begin lam. Hulle moet dan in goeie kondisie wees. Die ooie en lammers moet gesond wees om te oorleef. As die situasie nie verbeter nie, moet ons die vee begin verminder.”

Me. Marika Steenkamp van die landbou-onderneming GWK sê hulle verkoop meer bykomende voer aan boere as vorige jare.

“Boere moet hul kuddes nou ondersteun. Die diere moet proteïen inkry. Die proteïen voer ’n mikro-organisme wat hulle dwing om die droë gras te eet.

“Fosfaat help die dier se ontwikkeling en verbeter voortplanting. Sou die vee nie ’n gebalanseerde dieet kry nie, ontwikkel hulle droë galsiek.”

Die weerkantoor in Bloemfontein sê die Noord-Kaap en die Vrystaat het minder reën gekry as verlede Januarie. In sommige plekke is dit minder as die gemiddelde syfer.

Daar het nog nie genoegsame tropiese of laedrukstelsels ontwikkel nie. Die weerkantoor verwag meer reën teen die einde van die maand en in Februarie.

Kimberley het tot nou slegs 34mm gehad vergeleke met verlede jaar se 270mm in Januarie. Upington het verlede jaar 73mm gehad teenoor vanjaar se 3,7mm. Prieska en Noupoort het nog geen reën gehad nie.

Op Postmasburg, waar ’n 19-jarige meisie verlede jaar op 25 Januarie in ’n fratsvloed verdrink het, het slegs 0,4mm vanjaar uitgesak. Verlede jaar was die ooreenstemmende reënvalsyfer 41mm.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment