Sunday 22 January 2012

Inwoners ontsteld oor ‘beserkte haai’ by Witsand

GEORGE. – Inwoners van Witsand is ontstoke oor die negatiewe aandag wat hul dorpie tans weens ’n sogenaamde “mal” haai trek.

Sedert die wêreld se grootste Zambezihaai, sover bekend, in 2009 in die mond van die Breërivier gevang is, het almal op hol gegaan, volgens mnr. Johnny Swart, voorsitter van die belastingbetalersvereniging op die dorp.

Die wêreldwye bekendstelling van dié groot vonds van dié Suid-Afrikaanse haai-bewaar-area het glo mense wat haaie wil sien uit alle oorde na Witsand gelok.

“Waar vang ons die groot Zambezihaaie, oom?” het ’n jong kind glo in die Desember-vakansie aan Swart gevra.

“Nou hoor die mense van ’n ‘beserkte haai’ en raak hulle baie ontsteld,” het hy gister aan Volksbladgesê.

“Hier is mense wat nie meer hul kinders wil laat swem nie, en sommige praat van hul huise verkoop.”

Die hengelaar wat verlede week ’n Zambezihaai doodgemaak het, het beweer dat die haai “beserk” was en gereeld aan bote gestamp het.

Volgens Swart, wat sy lewe lank in die Breërivier hengel, is dié stelling onwaar.

“’n Haai sal jou boot per ongeluk stamp as jy die vis voor hom wegtrek, maar dit gebeur min,” het hy gesê.

“Hoe het daardie man in elk geval geweet hy maak die haai dood wat hom sodanig moeilikheid gee?

“Daar is meer as een haai op ’n slag in die rivier.

“Ons is so afhanklik van toerisme op ons dorp – die winkels, gastehuise en almal gaan daaronder ly as Witsand bekend staan as die plek waar haaie mal raak.”

Volgens Swart was daar nog al die jare ’n vreedsame saamleefverhouding tussen die haaie en hengelaars.

“Vandat ek 50 jaar gelede as driejarige my eerste kabeljou in die Breërivier gevang het, was daar nog nooit probleme nie,” het hy gesê.

“Ek sal self in die rivier gaan swem. Daar is niks om voor bang te wees nie.”

- Volksblad

No comments:

Post a Comment