Saturday 21 January 2012

Vloed sleur lid van lugmag mee

JOHANNESBURG. – ’n Lid van die Suid-Afrikaanse Lugmag is in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal nadat hy sy been gebreek het toe hy vyf lede van ’n gesin uit ’n boom wou red, maar in die vloedwaters van die Blyderivier geval en meegesleur is.

Volgens kol. André Barends, bevelvoerder van die Lugmagbasis Hoedspruit, het Lawson ’n groot hoeveelheid rivierwater gesluk. Hy word in die Tzaneen MediClinic behandel, waar sy toestand gestabiliseer het.

“Ons lede is hier om mense se lewens te red en soos wat Lawson gewys het, selfs hulle eie lewens in gevaar te stel ter wille van ander,” het Barends gesê.

Die vyf mense wat in die boom vasgekeer was, is toe deur ander lede van die lugmag en nooddienspersoneel van Phalaborwa en Polokwane gered. Hulle is na die gesamentlike operasiesentrum van die lugmagpolisie en nooddienste vir mediese behandeling geneem, maar was ongedeerd.

Barends het gesê die lugmag het 52 kritieke reddingspogings in die twee dae van die vloede in die gebied uitgevoer.

’n Swanger vrou is ook eergister uit ’n boom gered nadat sy ure lank daar vasgesit het. Volgens Barends was die vrou aan die beginstadium van hipotermie en is vir behandeling na die operasiesentrum geneem, waarna sy ontslaan is.

“Die 53 lede van 19-eskader, agt polisielede, 12 nooddienswerkers en meer as 100 inwoners het gesorg dat daar geen lewensverlies gedurende die ramp was nie,” het Barends gesê.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment