Friday 13 January 2012

Waar is die rampfonds?

Van die GG-Kamp brandslagoffers voor een van die strukture wat deur die munisipaliteit opgerig is. Heel regs is Bettie Pieterse, wie se dogter, kleinseun en skoonseun in die brand omgekom het. Langs haar is Rose Windvogel wat haar man en twee kinders verloor het. Foto’s: Hannes Visser

OUDTSHOORN NUUS - Oorlewendes van die brand by GG-Kamp in Bongolethu, Oudtshoorn wat op 5 November sewe lewens geëis het, het skynbaar nog nie ‘n sent ontvang van die rampfonds wat deur die burgemeester ge-stig is nie. Met die Oudtshoorn Courant se vorige besoek, op 20 Desember, aan die tydelike huisies wat vir die brandslagoffers opgerig is, het Gavin Juthe, hoof van behuising en spesiale dienste, gesê dat die burgemeester "seker voor Kersfees nog" ‘n besluit sal neem oor die aanwending van die meer as R100 000 wat in die fonds inbetaal is. Teen 20 Desember was die stadsraad egter al in reses en kon Burgemeester, Gordon April, nie vir kommentaar bereik word nie.

Die Oudtshoorn Courant het hierdie week gaan vasstel of die slagoffers reeds baatgevind het by die rampfonds. "Ons het nog net geld gekry van SASSA af, maar van daai geld wat in April se fonds is weet ons niks nie." het n ontstelde Rose Windvogel, wat haar man en twee kinders in die brand verloor het, gesê.

April het die week, op ‘n navraag oor die rampfonds en besluite daaroor geweier om kommentaar te lewer. "Ek mag nie saam met die media praat nie, julle moet saam met Ntobeko (die munispale woordvoer-der) praat." Toe daar aan hom verduidelik is dat Ntobeko Mangqwengqwe nog met verlof is en dus nie beskikbaar is nie het hy herhaal "Praat saam met Ntobeko."

‘n Navraag t.o.v. die rampfonds is direk aan die nuwe Munisipale Bestuurder, Thandekile Mnyimba, gestuur maar teen gisteroggend is nog geen reaksie ontvang nie.

Geen raadsbesluit
Ten spyte van die uiters frustrerende onbereidwilligheid van sommige ampte-nare om die pers te help om ‘n geba-lanseerde berig te skryf kon die Oudts-hoorn Courant vasstel dat die raad nog glad nie die burgemeester se rampfonds onder oë gehad het of enige besluite daaroor geneem het nie. Die raad is steeds in reses tot aanstaande week. Volgens ‘n ingeligte bron is daar baie streng en duidelike riglyne oor die oprig, bestuur en besteding van enige rampfonds en is so ‘n rampfonds die verantwoordelikheid van die munispale bestuurder. Indien dit so is dat die rampfonds nog glad nie by ‘n raadsvergadering bespreek is nie is alle aanduidings daar dat die geld in die fonds nie vinnig by die slagoffers gaan uitkom nie.

Strukture nog nie voltooi nie
Terwyl daar bespiegel word oor die grootte van die rampfonds en die lang pad wat gevolg moet word voordat die geld aangewend kan word sit die brandslagoffers intussen in hulle uiters warm en lekkende tydelike opslaanstrukture sonder vloere en sonder ruite.

Met die oprigting van die strukture in Desember het die vensterrame nie ruite gehad nie en daar was geen vloere nie, net ‘n vel swart plastiek. "Met nou die dag se reen het die water regdeur ons plek geloop, ons moes cardboard voor die vensters sit en die dak en mure het gelek." sê ‘n moedelose Bettie Pieterse, wie se dogter, skoonseun en kleinseun in die brand omgekom het. "Juthe het ons belowe hulle gaan glas insit en sementvloere kom gooi, maar hier was nog niemand nie. Ek dink hulle het vergeet van ons." Van die volwasse slagoffers het tydens Desember elk R1140 van die staat ontvang as noodhulp.

Cornelia Gelant wie se dogter Andrika Jantjies, in die vuur omgekom het kry ook baie swaar. Sy het haar drie kleinkinders in haar sorg geneem en moet nou vir altesaam ses kinders sorg. Sy sê dat sy nêrens kan aanklop vir hulp nie omdat sy nie self ‘n slagoffer van die brand was nie.

Met die Oudtshoorn Courant se besoek aan die slagoffers in hulle blink opslaanhuisies van 3mx3m was dit duidelik dat hulle omstandighede uiters haglik is. Behalwe vir matrasse, komberse en klere wat na die ramp aan hulle geskenk is, het hulle geen besittings nie.

"Ons kan nie so aanhou lewe nie, April moet hierheen kom en vir ons kom sê waar is al die geld waarvan die koerante laasjaar gepraat het." het Rose Windvogel gesê.

- Oudtshoorn Courant

No comments:

Post a Comment