Wednesday, 1 February 2012

‘Soos dag van oordeel’

FYNBOS LOOP DEUR Die brand het gistermiddag nog sterk in dié kloof van die Limietberg gewoed. Die aanduidings was dat dit dwarsdeur die nag sou brand. Oryx-helikopters het die vlamme met watersakke van 3 000 liter gebombardeer. Foto: DENZIL MAREGELE

AGTER-GROENBERG. – Sewe helikopters het gister die kranse laat dreun namate alle beskikbare brandbestryders ingespring het om plase te red van ’n brand wat al sedert Saterdagoggend in die berge naby Wellington woed.

Die brand het alles in sy pad verswelg, onder meer talle huise, wilde diere wat nie vinnig genoeg kon wegkom nie en sowat 4450 ha fynbos. Sommige inwoners moes hul huise en besittings agterlaat.

Die erns waarmee die nasionale regering die brand bejeën, is bevestig toe die lugmag die amper ongehoorde toegewing gedoen het dat twee Oryx-helikopters ingevlieg kon word om te help.

Maandagnag was “soos die oordeelsdag”, het mnr. Hermie Visser, ’n brandweerbevelvoerder, gister vroegoggend gesê nadat hulle vergeefs probeer het om die houthuisies van die Steenbokpark- private kampeerplek in Bainskloof teen die vlamme te beskerm.

Daarna het die brand omgeswaai en bo-oor nog ’n berg geklim, hierdie keer die Limietberg tussen Wellington en Tulbagh. Dié brand kom al van Saterdag af aan. Dit het in die Slanghoekvallei begin, maar was oënskynlik in bedwang. Die vuur het toe weer oor die berg geloop Bainskloof toe, waar ’n huis afgebrand het.

Maandag kon die brand daar berg-in bestry word, maar in die nag het die vuurlyne koers gekry die Limietberg in, aldus Visser.

Volgens mnr. Danie Wilds, brandweerhoof van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), is daar gisteraand teen sononder na raming al sowat 4450 ha fynbos vernietig.

Twee vuurlyne is teen druktyd steeds deur sowat 40 brandslaners van verskillende grondspanne gemonitor.

“Ons sal nie die gebied onbewaak laat tot ons voel alles is veilig nie,” het Wilds die versekering gegee.

Daar was gister twee helikopters van Werk met Vuur en drie kontrakhelikopters van die KWDM aan diens.

Teen 11:00 het die nasionale kantoor van die lugmag toestemming verleen vir die gebruik van die twee Oryx-helikopters.

Die sewe waterdraers het die vlamme goed karnuffel, maar diep in die klowe was die vuur steeds buite beheer.

Die stereoklank van helikopters in die lug, soms tot vier of vyf gelyk, het herinner aan ’n oorlogstoneel uit die rolprent Platoon. Op die wildplaas Bontebok Ridge het die blouwildebeeste in ’n trop voor die lawaai weggevlug, min wetend dat dié druisende rotore hul blyplek en waarskynlik ook hul lewe gered het.

Me. Leanne McKrill, woordvoerder van Werk met Vuur, het gisteraand gesê die vuur woed steeds. Spanne brandbestryders is aan albei kante van die berg by Bainskloof ontplooi.

Wit rook, swartgebrande berge en hier en daar nog ’n vlam is die toneel wat besoekers aan die Bainskloofpas kan verwag nadat ’n bergbrand die naweek in die gebied gewoed het, berig ­Richard Roberts van Bainskloof se kant af.

Die brand al langs die R301 het verkeersbeamptes gedwing om dié pad te sluit. Buite Antoniesvlei het hulle motoriste na Wellington teruggestuur.

Sommige mense moes hul huise verlaat, diere is doodgebrand en by die Steenbokpark is as en uitgebrande sinkplate al wat gister van 18 houthuise oor was.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment