Foto: Enkele artikels wat gered kon word, lê op die grasperk voor die uitgebrande huis. Foto's: Riata Nel
’n Vrou (78) wat haar 58-jarige dogter uit ’n brandende huis in Arconpark, Vereeniging, na veiligheid wou sleep, is gisteroggend in die hospitaal dood.
Haar dogter is ’n paar uur vantevore op die grasperk voor die brandende huis dood verklaar.
Vlamme en rook het die twee vroue eergister net voor middernag in me. Cynthia Healley se huis in Louis Abrahamstraat oorval.
Haar dogter, me. Emmerentia van den Berg, ’n inwoner van die Van Riebeecksentrum vir bejaardes in Sasolburg, het twee weke gelede ’n beenoperasie ondergaan en het by haar ma gebly om te herstel.
“My tannie se been was in gips. Sy’t gesukkel om te loop,” het me. Chanel Jooste, ’n kleindogter van Healley, gesê.
Healley het haar dogter tydens die brand glo tot in die gang gehelp en probeer sleep, waarna Van den Berg geval het.
Die bure het die vlamme gesien en die hulpkrete gehoor en kom help. Hulle kon die vroue uit die huis kry, maar Van den Berg was reeds dood.
“Noodbehandeling is gedoen, maar die pasiënt het geen tekens van lewe getoon nie. Sy is op die toneel dood verklaar,” het me. Vanessa Jackson, ’n ER24-woordvoerder, gesê.
Healley is na ’n plaaslike hospitaal vervoer.
“Ek het oor haar gebuk en gesê dat ek lief is vir haar. Sy het geantwoord dat sy lief is vir my en toe het ons gery,” het Jooste gesê. Haar ouma is omstreeks 05:00 oorlede.
Healley laat drie kinders, nege kleinkinders en vier agterkleinkinders agter. Van den Berg laat twee seuns en ’n dogter agter.
Dis hoe dit in die huis lyk nadat dit eergisteraand omstreeks middernag deur vlamme verswelg is. Me. Emmerentia van den Berg is dood en haar ma, me. Cynthia Healley, wat haar uit die huis probeer red het, is later in die hospitaal oorlede.
- Die Beeld
No comments:
Post a Comment