Tuesday 27 March 2012

Video: ‘Sharkbro’ sal haaie afweer

KAAPSTAD. – ’n Nuwe “haai-afskrikmiddel” is dalk net die ding wat swemmers veiliger sal laat voel.

Conn Bertish, ’n konseptuele kunstenaar, branderryer en omgewingsaktivis, het gister langer as ’n halfuur op sy branderplank in die haaitenk van die Twee Oseane-akwarium in die V&A Waterfront geswem.

Hy het gesê hy doen dit dalk met ’n bietjie humor en satire, maar die boodskap is om mense daarvan bewus te maak dat haaie nie ’n gevaar vir mense inhou nie.

Sy nuwe “haai-afskrikmiddel”, Sharkbro, behels die verf van die woorde “groente”, “100% broccoli”, “smaak sleg” en “nie ’n rob nie” onder sy branderplank.

En hy beweer dit skrik die haaie af – die “bewys” is dat geen haai hom gister in die haaitenk aangeval het nie.

Bertish het in ’n verklaring gesê sy navorsing het behels om met branderplanke die see in te vaar.

Hy het gesê hy en sy span toets Sharkbro al die afgelope agt maande en niemand is nog deur ’n haai aangeval nie.

“Meer mense word jaarliks deur koeie doodgemaak as deur haaie. Mense maak nie ’n bohaai hieroor nie, en skreeu nie: ‘Kom ons maak die koeie dood’ nie. Maar haaie word steeds as ’n groter gevaar gesien.”

Hy het gesê mense moet nogtans versigtig wees en as hulle moontlik in gevaar is, moet hulle kalm bly.

Hoewel die haaie gister reeds geëet het, het Bertish gesê die kanse is nogtans skraler om in die see deur ’n haai aangeval te word.

“Daar is nie soveel haaie in ’n gegewe ruimte in die see soos in die haaitenk nie.”



- Die Burger

No comments:

Post a Comment