Wednesday 28 March 2012

Vrou sterf in brand naby Vereeniging

Johannesburg – ‘n Vrou het gesterf toe ‘n brand in ‘n huis in Sonlandpark, naby Vereeniging, uitgebreek het, het paramedici gesê.

Vanessa Jackson, ‘n woordvoerder vir ER24, sê ‘n bejaarde vrou en haar 57-jarige dogter was in die huis toe die brand Woensdagoggend omstreeks 01:00 uitgebreek het.

Jackson sê die bure het daarin geslaag om die 82-jarige vrou te red.

Sy sê die bure het met hul eerste poging daarin misluk om die dogter te bevry. Sy het onlangs ‘n operasie ondergaan en kon nie beweeg nie.

“Met ‘n tweede poging het hulle haar uit die huis gekry, maar die vrou het reeds gesterf...” het Jackson vertel.

Die bure het die dogter probeer bybring, maar kon nie daarin slaag nie.

“Sy is op die toneel dood verklaar, met veelvuldige en ernstige brandwonde aan haar kop, nek, rug en bors.”

Daar word beweer dat die brand in die agterste deel van die huis uitgebreek het. Die oorsaak is steeds onbekend.

- SAPA/Nuus24

No comments:

Post a Comment