Thursday, 19 April 2012

Inwoners op hol nadat luiperd hond doodbyt

Inwoners van Presidentsrus naby Middelburg slaap deesdae met hul kamervensters toe nadat ’n luiperd die afgelope week in die omgewing opgemerk is.

Presidentsrus is sowat 12 km van Middelburg naby die Olifantshotel op die oewer van die Olifantsrivier.

’n Luiperd het verlede week ’n skaaphond op ’n plaas sowat 2 km van Presidentsrus af doodgebyt.

Volgens mnr. Jannie de Bruyn van die Mpumalanga-toerisme-en-park-agentskap het hulle reeds ’n vanghok in die gebied opgestel in die hoop om die rondloperluiperd te vang.

Die gebied waar die luiperd gesien is, is baie bergagtig.

“Baie luiperds loop vry tussen Middelburg, eMalahleni (Witbank) en die Loskopdam-gebied. Hulle hou nie juis ’n groot gevaar in nie omdat die diere baie menssku is, maar ’n luiperd sal nie huiwer om jou aan te val as hy vasgekeer of bedreig voel nie.”

De Bruyn het gesê hul pogings om die luiperd te vang is tot dusver gekortwiek deur nuuskierige mense wat die vanghok besoek.

“As ’n luiperd ’n mensreuk naby die hok kry, sal hy nie daarheen gaan nie.”

’n Klagte wat hy verlede week ontvang het oor ’n groot krokodil en drie kleintjies wat in ’n poel van die Klein-Olifantsrivier opgemerk is, was vals.

Die rivier kronkel deur Middelburg.

“Die poel waar die mense die krokodille glo gesien het, is erg besoedel en geen krokodil sal dit daar naby waag nie.”

- Beeld

No comments:

Post a Comment