Thursday 17 May 2012

2 oorleef toe vliegtuig paal tref

Die brandende vliegtuig kort nadat dit tydens ’n landingspoging teen ’n kragpaal gebots het.

’n Pa en seun van Centurion was gister “deksels gelukkig” nadat hulle ’n ongeluk met hul ligte vliegtuig op ’n aanloopbaan wes van Bronkhorstspruit oorleef het.

Die vliegtuig het uitgebrand nadat dit ’n kragpaal en ’n draadheining getref het.

Pierre Niemand (45), eienaar van Torque Drilling, het na verneem word net sy regterbeen gebreek en sy seun, Vincent (20), het snye aan sy been en ken opgedoen.

Hulle is kort ná die ongeluk na die Unitas-hospitaal geneem.

Hulle wou met hul Foxbat-vliegtuig op Len Greyling, ’n vriend, se private aanloopbaan op ’n kleinhoewe langs die R104-hoofweg tussen Donkerhoek en Bronkhorstspruit land. Hulle het die kragpaal langs die hoofweg getref.

Die vliegtuig het byna heeltemal uitgebrand, maar Niemand en sy seun kon hul betyds uit die kajuit bevry.

Louis Botha, ’n kollega van Niemand wat sy vrou, Vallery, en hul dogter, Sonika (15), gisteraand na die hospitaal geneem het, het gesê hulle was erg geskok.

Dokters het volgens hom gisteraand nog die omvang van pa en seun se beserings probeer bepaal.

Twee mans, Victor van Zyl (28) en Luan Theron (26), het gister omstreeks 16:30 pas by Wetnose, reg oorkant die pad van waar die ongeluk gebeur het, stilgehou toe hulle ’n harde slag gehoor het.

“Ons het dadelik weer in die motor gespring, uitgejaag en die brandende vliegtuig teen die paal gesien,” het Van Zyl gesê.

“Ons het eers gedink die vlieënier is nog in die vliegtuig, maar toe sien ons die man en seun in die veld lê.”

Theron het gesê hulle het deur die stukkende heining geklim en verby die brandende wrak geloop om by die beseerdes te kom.

“Die seun het ons gevra om hom te help om sy pa verder weg te sleep voordat die brandstof in die vliegtuig se vlerke ontplof.

“Ons het hulle ’n hele ent verder gesleep, toe het die brandstof ontplof.”

Vlamme van die wrak het volgens hulle hoog teen die kragpaal opgevlam. “Ons het groot geskrik,” het Van Zyl gesê.

“’n Mens sien sulke goed net in flieks. Hulle is deksels gelukkig dat hulle oorleef het.”

- BEELD

No comments:

Post a Comment