Friday 11 May 2012

Meer vliegtuie val

JOHANNESBURG. – Al hoe meer ligtevliegtuigongelukke kom in Suid-Afrika voor ondanks pogings om lugvaartveiligheid te verbeter.

In die eerste week van Mei is vier mense in twee ongelukke in KwaZulu-Natal dood en ’n vlieënier moes ’n noodlanding op ’n Durbanse strand uitvoer.

Sedert begin vanjaar het 44 ongelukke plaasgevind wat deur die Burgerlugvaartowerheid (BLO) ondersoek word.

Volgens die BLO is daar ’n aantal redes vir ligtevliegtuig- en mikrovliegtuig-ongelukke.

Bongi Mtlokwa, ’n BLO-navorser, het gesê enjins kan probleme gee en menslike foute kom voor.

“Private vliegtuie maak meer ongelukke as ander.”

Van 2006tot 2010 was private vliegtuie betrokke by sowat 65% van alle lugvaartongelukke.

Mtlokwa het gesê leerlingvlieëniers is by 18% van die ongelukke betrokke.

“Dit laat die vraag ontstaan of leerlingvlieëniers te gou toegelaat word om alleen te vlieg aangesien hulle blykbaar onder toesig goed presteer, maar nie noodwendig op hul eie nie.”

Herhaalde opleiding is belangrik en vlieëniers behoort gereeld op verfrisserkursusse te gaan, het sy gesê.

“’n Verdere probleem met vlieg vir plesier en nie vir kommersiële doeleindes nie is dat dié vlieëniers nie daagliks vlieg nie. Hul vaardighede raak verroes.

“Dit is dus ’n goeie idee om op die hoogte van ontwikkelinge te bly.”

Die mees algemene oorsaak van vliegtuigongelukke is as ’n vlieënier in beheer van ’n lugwaardige vliegtuig per ongeluk, gewoonlik in swak weer, teen ’n berg, massa water, die grond of ’n ander hindernis vasvlieg.

Volgens Mtlokwa kan baie noodlottige ongelukke verhoed word indien ’n vlieënier die nodige kennis het.

“Dit is belangrik dat die vlieënier sy vliegtuig ken. Ongelukke kom meer voor as die vlieënier nie dikwels ’n spesifieke vliegtuig vlieg nie. ’n Vlieënier het minstens drie vlieguur per jaar nodig.”

Vlugbeplanning is ook uiters belangrik sodat die vlieënier weet wat om te verwag.

“Vra jouself ‘wat as?’ en berei jou voor.

“Vliegvaardigheid kan beskryf word as kennis en kundigheid – nie net boekkundigheid nie, maar hoe bewus die vlieënier van sy vliegtuig en omgewing is.”

- Volksblad

No comments:

Post a Comment