Wednesday 6 June 2012

Groot koue tref VS en NK dié week

KRAP uit daardie oupa-wessies en dikkouse, want twee kouefronte gaan die week Vrystaters en Noord-Kapenaars laat bibber en beef.

Weer- en landboukundiges meen die winter is vanjaar sowat drie weke laat, wat voordele én nadele vir boere inhou.

Die groot koue gaan reeds vannag met die eerste kouefront begin, met ’n egte winterkoue wat die naweek voorlê.

Die meeste lesers het gister op Volksblad se Facebook-blad gesê hulle geniet nog warm weer waar hulle bly.

Reenen Stenekamp het gister gesê dit is nog somer op Brandfort.

Party was gretig dat die “regte winter” sy opwagting moet maak.

“Uit-flippen-eindelik! Smag na regte winter!” sê Maritza Kotzé.

Johann Mini van Rensburg skryf hy is gereed met ’n elektriese kombers, aangesien hy enkellopend is. “Body heat bly die beste!”

Tonie Rossouw, weervoorspeller by die weerkantoor in Bloemfontein, sê ’n tweede kouefront maak Vrydag sy opwagting.

“Mense kan hulself dié naweek gereed maak vir ’n regte wintersnaweek.”

Hy sê daarmee saam bring die koue ook bewolkte en winderige toestande met reënbuie.

Temperature gaan oor die naweek tot -5°C daal in die nag, met ’n gemiddelde temperatuur van 12°C deur die dag.

Sneeu word ook op die berge in Lesotho verwag.

Nico Hawkins, landboukundige, sê verskeie faktore het meegebring dat boere vanjaar ’n vroeë stroopseisoen vir somergewasse soos mielies, soja, grondbone en sonneblomme het. Die faktore sluit in dat daar geen laat reëns was nie en gewasse vinniger droog geword het.

Johan van den Berg, van Santam Landbou, sê die winter is vanjaar sowat twee tot drie weke laat, wat ’n voordeel was vir boere wat hul somergewasse laat geplant het, aangesien dit addisionele groeityd gegee het. Hy meen die droë en relatief warm periode was voordelig vir die gehalte graan wat gelewer is, maar dit het egter die graanoes nadelig beïnvloed, met droogteskade wat voorgekom het.

“Die gemiddelde intreedatum vir ryp in die sentrale gedeeltes is ongeveer in die laaste week van April, maar tot op hede het daar slegs enkele nagte met ryp voorgekom. Die gevaar met die laat begin van die winter is dat dit dikwels ook veroorsaak dat ryp later as normaal in die lente en vroeë somer kan voorkom, wat skade aan vrugtebome en druiwe, asook die vroeë aanplantings van gewasse, kan veroorsaak.”

- Volksblad

No comments:

Post a Comment