Tuesday 26 June 2012

Haar man sterf kort voor tornado seun eis


Die vakansiehuis waarin Jean Coetzee Saterdagaand dood is toe ’n tornado die gebied getref het. Foto: Wolfram Zwecker

“Hy het altyd gesê ek is nie sy ma nie, ek is sy ousus.”

So het Colleen Coetzee (41) gister gesê nadat haar seun, Jean (22), die naweek dood is in een van die talle tornado’s wat die Oos- en die Noordoos-Vrystaat getref het.

Jean is deur konst. Peter Karedi, polisiewoordvoerder, verkeerdelik aan Beeld geïdentifiseer as Eugene Coetzee, ’n student aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom- kampus, wat in Germiston woon.

Coetzee, van Alberton, het gister gesê sy het twee weke gelede haar man, Jacques (43), ook aan die dood afgestaan.

“Jean was met sowat 14 vriende op ’n naweekuitstappie by die Vaaldam by Oranjeville. Hy het saam met sy groep vriende gaan ontspan,” het Coetzee gesê.

Volgens haar het van sy vriende vertel hulle het die tornado sien aankom terwyl hulle gebraai het en in die chalet ingehardloop.

Jean en een van sy vriende was glo van die laastes om in te hardloop. Jean is dood toe die tornado die grasdak-chalet tref.

Volgens Coetzee het hy kopbeserings opgedoen.

“Die kinders het vir my gesê dat alles so vinnig gebeur het. Ek weet nie hoe om vir jou te sê hoe ek voel nie,” het Coetzee gesê.

Twee weke gelede het sy haar man begrawe. “Dit voel nie asof Jean weg is nie.”

Sy het gesê dat sy nog nie aanvaar dat hy dood is nie.

“Ek was baie lief vir hom.”

Coetzee het gesê sy en Jean het baie met mekaar gespot.

“Hy het altyd my siel uitgetrek. Hy het my sy ousus genoem. Ek gaan veral sy glimlag mis.”

Jean was ’n “party animal” en het gehou van uitgaan, het Coetzee gesê.

Coetzee en haar jongste seun, Sean (17), is al wat oor is van die gesin van vier.

“Gelukkig het ek ’n groot familie wat my ondersteun,” het sy gesê.

Jean se gedenkdiens is Maandag 14:00 in die Alberton Metodiste-kerk.

- Beeld

No comments:

Post a Comment