Friday 22 June 2012

Jagter se skoot na bosvark eis pa

PORT ELIZABETH. – ’n Veeboer van Jansenville was gister verslae nadat een van sy getrouste werkers die vorige aand in ’n jagongeluk doodgeskiet is.

David Bhunu (30), ’n wewenaar en pa van ’n jong seuntjie, is dood terwyl ’n besoekende jagter na ’n bosvark geskiet het.

Chippie Biggs, eienaar van die plaas Wellfound tussen Jansenville en Pearston, waar die ongeluk gebeur het, het gesê dit is ’n raaisel hoe so iets Bhunu kon oorkom. “Hy het hierdie veld geken soos die palm van sy hand. Hy het álles geweet van jag en spoorsny. Hy was my regterhand en ek gaan hom ontsettend baie mis.”

Biggs het gesê die vierman-jaggeselskap het Maandag van Pretoria en Potchefstroom op die plaas aangekom. Hy, sy seun Kenneth en Bhunu het hulle Maandag, Dinsdag en Woensdag om die beurt uitgeneem veld toe om te jag.

“Ek ken hulle al lank en hulle is almal skitterende jagters.” Biggs was só beïndruk deur hul vermoëns dat hy Woensdag met ’n geruste hart na ’n begrafnis is en Bhunu saam met hulle uitgestuur het.

Hulle het gaan koedoes jag, maar hy het gesê as hulle probleemdiere soos bosvarke, rooikatte of jakkalse teëkom, is hulle welkom om dit ook te skiet.

Bhuna is blykbaar dood toe hulle ná donker na ’n bosvark geskiet het.

Ao. Hannes Theron, ’n polisiewoordvoerder, het gesê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Bhunu word oorleef deur sy bejaarde ma en ’n seun.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment