Monday, 11 June 2012

Koue bly, selfs al skyn die son

Die weerkantoor het geen waarskuwings van ongure weer vir die res van die week in die Wes-Kaap nie. Hy sê wel die son sal skyn en dit sal koud wees, skryf Die Burger se Weerhaan.

Die stelsel wat ons vissermanne dae lank sonder kos gelaat het, teister nou die Oos-Kaap. Die kaart wys hoe hoog- en laagdrukstelsels mekaar aan die Ooskus omhels vir konveksie om elders te gaan skoorsoek.

Wat vir ons in die Kaap egter belangrik is, is dat die son skyn, al is dit net tydelik om die grond effens droog te kry.

Hermanus, waar nóg reën afgesmeek word, kry vandag ook sonskyn.

Hieroor swyg die weerkantoor liefs en sprak ook verder g’n sprook oor die weerpatroon wat daar so onvoorspelbaar bly nie. Oor môre is hulle egter seker: Die wind uit die suide sal die Overstrand teen 30km/h laat bibber.
Woensdag is dit sonskyn in die Boland, wolke hang oor Kaapstad, en die Suid-Kaap kry nog ’n blertsie reën.

Dele van die Oos-Kaap wat klappertandkoue beleef het die naweek sal bly wees om te hoor die reën is vir eers verby, terwyl ander in ’n sprokieswêreld van sneeu vasgevang is.

Volgens Garth Sampson van die Suid-Afrikaanse Weerdiens het dele van die Baai meer as 130mm reën gehad.
Die reën sal ook vir eers opklaar, maar die koue behoort nog tot later in die week aan te hou.

Die koue het hoogliggende gebiede in die provinsie, soos Aliwal-Noord en Barkly-Oos, egter die hardste getref met dik lae sneeu en temperature tot so laag as -3°Celsius.

Intussen is die Swartbergpas buite Oudtshoorn vandag oopgestel nadat dit die naweek weens sneeu gesluit moes word.


- Die Burger

No comments:

Post a Comment