Friday, 15 June 2012

Loop lig vir hidrobreking, sê kenner


TWEE wetenskaplikes van die Instituut vir Grondwaterstudies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) volstaan by hul jongste studie oor die skadelike gevolge wat hidrobreking (fracking) vir skaliegas in die Karoo sal hê.

Prof. Gerrit van Tonder, ’n bekende geohidroloog, en Fanie de Lange, ’n doktorale student, het bevind die proses van hidrobreking sal grootskeepse waterbesoedeling in die Karoo tot gevolg hê as die regering hidrobreking goedkeur.

Van Tonder het aan Volksblad gesê dié studie sal binnekort aan Suid-Afrika se watertydskrif vir publikasie voorlê word.

Van Tonder se jongste bevindinge het vandeesweek groot bespreking uitgelok nadat hy vroeër gesê het hidrobreking hou geen skadelike gevolge vir grondwaterbronne in nie.

Hy is nou oortuig dat chemikalieë wat saam met water en sand onder hoë druk in die ecca-skalielaag ingepers word om die rots te kraak, opwaarts kan vloei en die vars grondwater op plekke erg kan besoedel.

Hidrobreking met skadelike chemikalieë moet plaaslik, soos in Frankryk, verbied word, sê hy.

“Altesaam 62 gasmaatskappye in Frankryk doen eksplorasie deur net kerngate te boor en te gebruik om gashoeveelhede te bereken.”

Hy meen baie chemikalieë wat in Amerika met hidrobreking gebruik word, is kankervormend.

Water, sand en gevaarlike chemikalieë word onder hoë druk in ’n boorgat gepers om ’n gebied te hidrobreek. Metaangas meng met vuil water wat terugvloei na ’n horisontale rotsbreking-boorgat en opwaarts deur die vertikale boorgat.

“Vir die eerste vyf dae kom sowat 20% van die chemikalieë weer terug, terwyl die ander 80% in die gekraakte gebied agterbly.”

Volgens hom is ’n boorgat tussen 10 tot 20 jaar bruikbaar waarna dit afgeseël word en dié erg besoedelde water dan deur voorkeurpaaie na vars grondwater kan vloei.

Met voorkeurpaaie soos dolerietgange en -plate, verskuiwings, vertikale kraaksones en kimberlietpype wat reeds in die Karoo bestaan, kan erge besoedeling voorkom.

Van Tonder sê sement-omhulsels van gasboorgate kan ook voorkeurpaaie vir besoedeling vorm.

“Sement vorm oor tyd krake wat ’n goeie voorkeurpad vir dié besoedelde water en gas is.”

Prof. Philip Lloyd van die energie-instituut aan die Kaapse Skiereiland-universiteit van Tegnologie beskou Van Tonder se bevindings as ongegrond.

Lloyd het Van Tonder in die media gekritiseer en sê meer as ’n miljoen boorgate is al gehidrobreek en slegs een het besoedelingprobleme getoon.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment