Monday 11 June 2012

Myn boor in straat in woonbuurt



William Manyapye by een van die prospekteergate.

Inwoners van twee dorpies in ’n landelike gebied buite Mokopane in Limpopo het ’n Kanadese mynmaatskappy by die Menseregtekommissie verkla omdat dié maatskappy in hul woonbuurte prospekteergate geboor het.

Die gemeenskappe van Turf­spruit en Macalacaskop voer in ’n prokureursbrief aan die Menseregtekommissie aan Platreef Resources het hul drinkwater besoedel en van die inwoners het gesondheidsprobleme ná die prospekteerdery.

William Manyapye, een van die inwoners van die gebied, het tydens ’n onlangse besoek van Beeld aan Macalacaskop gesê Platreef Resources het in die straat voor sy huis prospekteergate geboor.

Hy en sy gesin was glo vir etlike maande “dag en nag” blootgestel aan geweldige geraas en ernstige lugbesoedeling.

Hy het nou gehoorprobleme en van sy kinders het asma, het hy gesê. Hulle is aan ernstige trauma blootgestel, het hy gesê.

Mokgaetji Moja, ook ’n inwoner van dié buurt, het gesê haar boorgatwater het tydens en ná die prospektering begin skuim en dit het sleg geruik. Sy kan dit nie gebruik nie.

Harry Dul, Platreef Resources se regsverteenwoordiger, het erken daar was probleme met Moja se water, maar sê dié maatskappy het dit reggestel.

Platreef Resources het ook in ’n stadium vir Moja water van “’n ander bron” na haar huis aangery.

Emile Honiball, die gemeenskap se regsverteenwoordiger, het gesê die mense in die woonbuurt is arm en hul regte is geskend.

Dul het skriftelik aan Beeld gesê Platreef Resources besit die prospekteerregte in dié gebied en dié maatskappy moes “ongelukkig” in die woonbuurt prospekteer in ’n poging om die minerale bron ten volle te verstaan.

Platreef het die mense wat deur die boordery geraak is, vir hul ongerief vergoed, het Dul gesê.

Dul het ontken Platreef Resources het “dag en nag” in die woonbuurt geboor. Die maatskappy het aanvanklik 06:00 soggens begin boor en 20:00 saans opgehou.

Nadat die gemeenskap gekla het, is die boordery saans om 18:00 gestaak.

Volgens Dul het niemand ooit gekla oor gesondheidsprobleme nie. Die maatskappy het op 13 Januarie begin boor en op 15 Februarie opgehou.

Beeld is in besit van ’n brief wat die departement van minerale bronne op 15 Februarie aan Platreef geskryf het en die mynmaatskappy beveel het om sy bedrywighede in die dorpie te staak.

Dul het nie op navrae hieroor gereageer nie. Hy het ook nie gereageer op die inwoners se klag aan die Menseregtekommissie nie.

Jeffrey Nkuna van die Menseregtekommissie se kantoor in Polokwane het ontvangs van die klagte erken.

- Beeld

No comments:

Post a Comment