Monday 11 June 2012

Staan saam teen bejaarde-mishandeling


Staan saam teen bejaarde-mishandeling
MOSSEL BAY NEWS - WEAAD (World Elderly Abuse Awareness Day) word sedert 2006 op 15 Junie herdenk.

Die fokus van die dag is om bewustheid te kweek rakende die mishandeling van ouer persone. In Suid-Afrika, is Aksie teen Mishandeling van Bejaardes SA die amptelike sameroeper van hierdie geleentheid.

Vanjaar is die tema van WEAAD 'My wêreld… jou wêreld …sonder die mishandeling van bejaardes'. WEAAD word op Vrydag 15 Junie tydens 'n geleentheid in die Mosselbaai Stadsaal herdenk, met 'n program vanaf 09:00 tot 12:00.

Meeste gelowe en kulture bevorder die idee dat bejaardes gerespekteer moet word, met waardigheid hanteer moet word en erkenning moet geniet vir hul bydraes tot die samelewing, hul wysheid en ervaring. Mishandeling van bejaardes is 'n probleem in Suid-Afrika wat geweldig onderskat word, veral aangesien die slagoffers huiwerig is om hieroor te praat.
Wat is mishandeling teenoor bejaardes? Aksie teen Mishandeling van Bejaardes omskryf dit as 'n enkele of herhaalde gedrag of nie-gedrag wat skade berokken of 'n ouer persoon gespanne laat. Mishandeling geskied in menige vorms, waarvan finansieel, fisiek, psigologies en seksueel die hooftipes is.

Suid-Afrika toon 'n bevolkingstendens dat bejaardes 'n al groter deel van die bevolking uitmaak waarvan die vinnigste groeiende segment 80 jaar en ouer is.

Saam met die toename het mishandeling ook toegeneem. Maatskaplike kwessies soos armoede en die hoë werkloosheidsyfer, dwelm- en alkoholmisbruik het ook 'n negatiewe impak op ouer mense, wat dikwels as 'n sagte teiken vir hul pensioengeld beskou word.

Ouer persone het dieselfde grondwetlike en menseregte as enige Suid-Afrikaanse burger, daarom kan mishandeling ingevolge die Wet op Ouer Persone, Wet no 3 van 2006, aangemeld word by die Department van Maatskaplike Ontwikkleing, die SAPD of 'n tolvrye oproepp na AEASA of na HEAL se Stop mishandeling van bejaardes hulplyn wat 24 uur per dag beman word.

Vir meer inligting, kontak Erma Meyer van HEAL by 082 639 3001 of HEAL se kantore by 044 873 6208.

- Mossel Bay Advertiser

No comments:

Post a Comment