Friday, 20 July 2012

Gedigte betoog teen natuur-verwoesting


Ben Sciocatti, wat as kind in Knysna grootgeword het, met sy digbundel, 'Vlug van die Albatros', by een van sy skilderye oor die asemrowende natuurlewe wat hy in sy dae as weervoorspeller op Marion en Gough eilande beleef het en hom steeds bybly. Foto: Anoeschka von Meck

MOSSELBAAI NUUS - Woorde soos 'n onsigbare, sienende wind wat op vér plekke gaan draai. Dit vat mens saam na verlate, ongerepte horisonne waar die albatros met sy meterlange vlerkspan pronk en pikkewynkuikens donsig in 'n flou sonnetjie bak. Dit alles onthou Ben Sciocatti van Danabaai.

Hy was immers in sy lewe as weervoorspeller van Kaapstad se Weerkantoor onder meer op beide Marion- en Gough Eiland vir 'n jaar elk gestasioneer. (Die Weerburo was in Pretoria.)

Lees mens sy gedigte of bewonder mens sy skilderye, is dit duidelik dit wat hy destyds daar deurleef het steeds helder in sy binne-oor en sy geestesoog is. Die reuke en klanke van 'n ander tyd soos die tekstuur van 'n geliefde ou baadjie wat mens met sy omhelsing warm hou. En dit is hierdie ryk herinneringe, inge-ets op die fyn waarnemingsgees van Sciocatti wat sy werk 'n unieke egtheid gee.

"Klimaat en die weer was my lewenspassie van beroep - verby die noord- en suidpoolsirkels was ek," skryf hy voor in sy digbundel, 'Vlug van die Albatros', wat hy vroeër vanjaar self uitgegee het.

Sciocatti se oupa het uit Italië gekom en sy pa het 'n houtvervoerbesigheid in die Knysna van toeka se dae gehad, waar hulle nog ossewa's gebruik het voor vragmotors ingekom het. As die jongste van agt broers en twee susters (waarvan nog net drie vandag lewe), onthou hy hoe hulle op matrasse gestop met gras en boegoe geslaap het.

"Dit was 'n vry lewe. Ons het skool toe geloop na 'n plaasskooltjie in 'n sinkgeboutjie - almal boswerkers se kinders," vertel hy.
Na skool het Sciocatti by die Lugmag Gimnasium aangesluit om 'n loods te word. Ongekies is hy toe vir die res van die jaar as 'n radar operateur opgelei en het daarna by die Weerkantoor in Kaapstad aangesluit omdat hy sodoende 'n salaris kon verdien terwyl hy studeer.

As jongman het hy nooit kon droom sy lewenspadjie sou hom vat na die afgesonderde en verruklike natuurskoon van die weerstasie se eilande nie.

"Net om daar te kom het ons tussen sewe en 10 dae geneem. Op Marion, waar ek ekspidisieleier was, het ons groep uit nege mense bestaan, maar op Gough Eiland was ons net ses."

Gough Eiland is 'n vulkaniese eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan wat onder Tristan da Cunha val as deel van die Britse territoriale gebied van St Helena. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Program huisves sedert 1956 die bemanning van die weerstasie - een van die mees verlate plekke op aarde waar daar 'n konstante menslike teenwoordigheid is sonder dat die eiland bewoon word.

Sciocatti erken dat die lang afsondering van die gewone samelewing in gedwonge familiêriteit met vreemdelinge mens sielkundig skaaf. "In die buitewêreld kan jy jou vriende kies, maar op so 'n eiland word mens in 'n groep saamgegooi. Jy leer dus verdraagsaamheid en jy leer alles self doen. Dit forseer jou om oplossings te vind," roep hy in herinneringe verskeie insidente waar hy as spanleier moes ingryp om vrede te herstel of om 'n probleem aan te spreek.

Dit is duidelik uit beide Sciocatti se skilderkuns, asook die temas waaroor hy graag skryf, dat hy diep worstel met hedendaagse kwessies soos die mensdom se gierigheid wat tot die besoedeling en uitwissing van die natuur lei.

"As daar nie drasties opgetree word nie, gaan ons lewe uitwis - ek is so bekommerd as ek lees van die derduisende voëls wat byvoorbeeld met langlyne gevang word. Verskeie lande wat gewetenloos al die kril opvang wat die Koningspikkewyn se kuikens op die eilande laat vrek. Alles is tog deel van 'n lewensiklus en as jy een skakel verwoes, val die volgende spesie ook."

Sciocatti het in sy tyd op die eilande ook die bioloë gehelp om voëls te ring en sodoende baie oor die spesies van die eilande te lere gekom. Hy vertel hoe hy self gesien het hoe moordwalvisse op hul sye swem sodat die robbe nie hul dorsale vin moet raaksien nie.

"Ek kon nie glo met watter spoed daai reuse Orca's hulself teen die wal uitgooi en vinnig hul prooi wegruk nie - ek het seker gemaak om vir die manne te sê om nooit te naby aan die kant te loop nie. Teen die tyd wat jy so 'n Orca op die kuslyn sien afpyl, is dit reeds te laat!

"Ek het geen belangstelling in kuns gehad nie en niemand in my familie wat ek van weet het geskryf nie," krap hy kop oor waar sy skielike kunsgier vandaan kom wat hom na sy aftrede onverhoeds betrap het.

Toe hy een dag die omroeper Amoré Bekker hoor uitsaai dat mense moet begin gedigte skryf, het hy besluit om ook die uitdaging te aanvaar en was verbaas oor sy eie pennevrug.

"My gedagtes vlieg soos die albatros oor die wêreld heen - iewers in die trope word 'n boom afgekap wat miskien in die toekoms die mens se lewe sal bedreig. My stem is dof, maar dit glo ek vas, die natuur het ook 'n reg om te bestaan. My hele poging is 'n betoog vir die antarktiese lewe."

Sciocatti het 'n 100 van sy digbundel laat druk vir familie en vriende.

"Dit is sommer net vir myself," beduie hy effe verleë.

Vir meer inligting of om met die skrywer kontak te maak, skakel Ben Sciocatti op 044 698 1137.

- Mossel Bay Advertiser

No comments:

Post a Comment