Thursday 26 July 2012

George: Brandweerhoë bly koelkop in krisis


Eden se adjunkbrandweerhoof, Deon van Wyk was een van die helde in die reddingsoperasie kort na die helikopter neergestort het. Foto: Christo Vermaak

GEORGE NUUS - Die Eden-distriksmunisipaliteit se adjunkbrandweerhoof, Deon van Wyk het nie net die vlieënier van die helikopter wat laat Donderdagmiddag neergestort het se lewe gered nie, maar ook voorkom dat die wrak ontplof.

Enkele sekondes na die vlieënier, Christo Myburgh (23) vir Van Wyk en die Eden-distriksmunisipaliteit se fotograaf, Herman Pieters by die Witfontein-bosboustasie buite George afgelaai het, het die Robinson R44 Raven2-helikopter neergestort. Ongeveer 20 minute voor die ongeluk het Myburgh die Eden-distriksraad se burgemeester, Wessie van der Westhuizen in Oudtshoorn afgelaai.

Van Wyk vertel hy en Pieters het uit die helikopter geklim terwyl die rotor nog gedraai het en om 'n gebou na hul voertuig gestap. "Ek het gehoor die helikopter maak 'n baie snaakse geluid en opgekyk. Die helikopter was ongeveer 30m hoog in die lig met sy neus amper reguit na bo. Ek het besef hy gaan val en het teruggehardloop en gesien hoe hy neerstort."

Van Wyk het gesê hy het besef hy moet kalm bly, maar vinnig optree en met die regte besluite vir Myburgh uit die wrak kry.

Rook en brandstof het uit die masjien geborrel terwyl die rotor steeds gedraai het, dit was 'n resep vir die moontlikheid van 'n ontplof-fing. "Net een vonk was nodig dan sou daar 'n ontploffing gewees het." Volgens Van Wyk het hy met gevoel te werk gegaan en begin om Myburgh te bevry. Hy is bygestaan deur Benjamin Pretorius en Elizabeth Keffers (CapeNature), asook Warren Makampies van Working on Fire.

ER24 se personeel het kort daarna op die toneel opgedaag. Een van hul reddingswerkers, Anton Conradie het toe beheer geneem oor Myburgh se behandeling op die toneel waarna hy na die George Mediclinic gehaas is. Volgens Myburgh se pa, Chris, is hy Saterdag weer ontslaan en is hy behandel vir kopbeserings en 'n besering aan sy een long. "Hy moet gaan vir opvolgondersoeke en behandeling, maar andersins gaan dit goed met hom."

Burgerlugvaart het Vrydag die wrak van die toneel verwyder om die oorsaak van die ongeluk te bepaal. Vroeëre berigte dat Myburgh in 'n draad vasgevlieg het en toe geval het, is deur Van Wyk as onwaar afgeskryf. "'n Meganiese fout was na alle verwagting die oorsaak van die ongeluk."

* The pilot of the helicopter that crashed at Witfontein has been released from hospital. The accident occurred last Thursday afternoon shortly after he dropped off Eden Deputy Fire Chief, Deon van Wyk and Eden District Municipality's photographer, Herman Pieters.

Rook borrel uit die helikopter se enjin kort na dit neergestort het. Foto: Herman Pieters
Paramedici stabiliseer die vlieënier langs die wrak van die helikopter. Foto: Ilse Schoonraad


ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment