Friday 27 July 2012

Nog ‘n Suid-Kaap renoster wreed gedood


Kobus Crous by die karkas van KC wat vermoedelik Dinsdag deur stropers verdoof en onthoring is. Soos die vorige renoster wat ses maande gelede op Crous se plaas buite Hartenbos gestroop is het KC 'n wrede dood gesterf nadat sy horing met skerp voorwerpe afgekap is. Foto: Tisha Steyn

MOSSELBAAI NUUS - Die wrede dood van 'n tweede renoster in ses maande op 'n wildsplaas naby Hartenbos het die moedelose eienaar gister laat besluit om sy oorblywende renosters te verkoop.

"Ek kan nie alleen veg teen die stropers nie," het Kobus Crous eienaar van Bersig Woensdag gesê. Crous het reeds dubbele geëlektrifiseerde heinings en infrarooi-kameras aangebring nadat 'n vier jaar oue renosterbul in dieselfde kamp in Januarie deur stropers verdoof en die horings met kap-messe verwyder is.

Die karkas van die 12 jaar oue renosterbul KC is Woensdag omstreeks 10:00 deur a.o. Mike van Heerden van Mosselbaai-polisiekantoor opgemerk terwyl hy die landelike gebied patrolleer het.

Die karkas het in die veld sowat 1,5km vanaf die plaashuis gelê en met 'n verkyker kon Van Heerden vasstel dat die dier dood is. Hy het het Crous in kennis gestel. In Januarie moes Van Heerden ook die slegte nuus oordra.

Crous, ook eienaar van Mosselbaai Helikopters, was op 'n plaas tussen Cookhouse en Somerset-Oos in die Oos-Kaap besig om wild te vang. Hy het inderhaas die twee uur lange vlug terug Mosselbaai toe onderneem. Die Oudtshoorn Courant het verlede week berig hoedat Crous onbaatsugtig sy helikopter inge-span het om veevoer en voorrade by plase in die Karoo af te laai wat deur die swaar sneeuneerslae afgesny was.

"KC en sy maat MC ('n renosterkoei) was onafskeidbaar," het Crous gesê. "Ons het hulle gereeld van die stoep af met die verkykers dopgehou. Hulle het dikwels by die heining reg langs die huis kom kos bedel. KC was hondmak en glad nie bang vir mense nie." Volgens Crous was KC se primêre horing besonder groot.

Die twee renosters is Maandag omstreeks 16:00 die laaste keer deur Crous se werkers opgemerk. "Ek het Dinsdagoggend Oos-Kaap toe gevlieg. Die stropers moes daarna toegeslaan het."

Dr. Frans de Graaff, veearts van Hartenbos Dierekliniek, het die karkas ondersoek en bevind dat die renoster verskeie kere met verdowingspyle geskiet is. 'n Klomp bloed by die renoster se kop dui daarop dat hy nog lewendig was toe die horings met 'n skerp voorwerp verwyder is.

Dr. Greg Garrett, 'n veearts van Groot-Brakrivier, het maaiers van brommers wat reeds op die karkas uitgebroei het geneem om te probeer vasstel hoe lank die dier al dood is.
Volgens Crous is die infrarooi-kameras nie geaktiveer deur beweging nie en daar bestaan dus nie beeldmateriaal van die stro-pers nie. Feitlik die hele kamp is van die plaashuis se stoep af sigbaar, maar die renoster is net agter 'n bultjie buite sig van die huis vankant gemaak.

"Ek is moedeloos," het Crous gesê. " Die sekerheidsmaatreëls het meer as R100 000 gekos, en dit het niks gehelp nie. Ek weet nie wat 'n mens nog kan doen om die stropers te fnuik nie."
Die vermoede bestaan dat die plaas dopgehou word. "KC was 'n dominante bul wat onlangs deur die dubbele heinings om die kamp gebreek het om 'n ander renosterbul te verwilder. Die stropers moes geweet het die heining is nog nie ten volle herstel nie."

Volgens Garrett is die huidige prys van lewende renosters sowat R250 000, maar omdat die diere meedoënloos uitgewis word, is daar nie juis 'n aanvraag nie. Tydens 'n wildvei-
ling by Beaufort-Wes in Junie vanjaar was daar geen belangstelling in die witrenosters in die veilingkatalogus nie.
Renosterhoring, daarenteen, word deur middelmanne verkoop vir tussen R65 000 en R85 000 per kilogram. Die markwaarde is ses maal soveel. 'n Groot renoster se horings kan altesaam tot 11kg weeg en op die ope mark tot soveel as R5 miljoen werd.

* A second rhino on a game farm near Hartenbos has suffered a cruel death when its horn was hacked off by poachers. The rhino, KC, was poached on Bergsig, the farm of Kobus Crous. Another rhino was also poached in the same camp in January and suffered an equally cruel death. The poachers tranquilise the rhinos, hack off the horns and then leave them alive to bleed to death. Crous flew to the Eastern Cape on Tuesday morning and the rhino was probably killed the same day. Police on patrol saw the carcass on Wednesday and contacted Crous who returned home immediately.

ARTIKEL: TISHA STEYN

No comments:

Post a Comment