Thursday 19 July 2012

Wind ruk kerksaal se dak af


Nadat sterk rukwinde die Volkskerk van Afrika in Hornlee se dak afgeruk het, het bure geskarrel om te verhoed dat die dakplate verdere skade aanrig.

KNYSNA NUUSFLITS - Groot skade is aan die Volkskerk van Afrika in Hornlee en naburige eiendomme aangerig na `n verwoestende wind die dak van die Volkskerk op huise in die buurt laat neerstort het.

Die rukwind van Saterdag, 14 Julie het ongeveer 15:30 die groterige dak van die saal van die plaaslike kerk in een slag afgeruk.

Die kerk in Casinostraat is bo-op 'n bult gebou en die dak front na die Suid-Westewind wat onder dit ingewaai het en dit in die geheel opgelig het.

"Mense in die omgewing het die geweldige slag van die wind gehoor en hulle het na die kerkperseel gehaas waar die toneel van verwoesting hulle begroet het," het dominee Wendoll Martin vertel .

'n Nabygeleë buurman, John Roelf, het verduidelik dat die dak met 'n groot slag geland het. "Gelukkig was daar niemand in die straat op daardie omblik nie," het hy gesê. "Alles het so vinnig gebeur."

Kort voor lank het gemeentelede en inwoners verbyster rondgeskarrel om die groot stukke rommel wat rondgestrooi gelê het teen die grond te hou om sodoende verdere skade te verhoed.

Opruimingswerk kon eers behoorlik plaasvind teen Sondag, 15 Julie nadat die sterk wind bedaar het.
"Die kerkbestuur van die plaaslike gemeente is groot dank verskuldig aan naburige inwoners wat hulp verleen het tydens die verwoesting," het Martin gesê.

Hy het verder vertel hoe jammer hy is oor die skade wat gedoen is aan die naburige eiendomme, maar dat hy wel dankbaar is dat daar geen lewensverlies was nie. "Dis `n verskriklike slag vir ons gemeente, maar ons is gereed om onmiddelik moue op te rol om die skade te herstel," het hy afgesluit.

Gelukkig is die kerk verseker en is tans besig om te onderhandel met die versekeringswaardeerder.


Die dakplate van die Volkskerk is vasgemaak in 'n nabye eiendom.

ARTIKEL: FRAN KIRSTEN, KNYSNA-PLETT HERALD-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment