Thursday 19 July 2012

Ysige sprokiesland eis sy tol


'n Laagwaterbrug is Saterdag oorstroom waar die Kaaimans- en Swartrivier bymekaarkom. Foto: Eden-rampbestuur

GEORGE NUUS - George en omliggende dorpe is in 'n sprokiesland omskep ná sneeu die Outeniqua- en Swartberge met 'n wit sneeukombers bedek het.

Saam met die sneeu het swaar reën en stormsterk winde ook die Suid-Kaap getref. Die Swartbergpas anderkant Oudtshoorn is gesluit en verskeie paaie asook die hoofroete tussen Gauteng en die Wes-Kaap is toegemaak na verskeie trokke en ander voertuie in die sneeu vasgeval het.

Vir duisende mense was dit 'n ongelooflike gesig, maar agter die skerms moes nooddienstepersoneel swoeg om lewens te red. Teen Dinsdagoggend is bevestiging ontvang van vier mense wat die afgelope naweek se koue en vloede nie oorleef het nie. Nog een is as vermis aangemeld. Polisieduikers het Dinsdagoggend hul soektog na die vermiste vrou in die Keurboomsrivier by Joncksrus naby Uniondale voortgesit.

Die hoof van Eden-rampbestuur, Gerhard Otto het bevestig dat die vier mense wat dood is almal Saterdag beswyk het. Drie van hulle, Jan Kaptein (55) van Uniondale en Katrina Erasmus (86) van Avontuur, asook 'n vrou wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, het op Middelplaas in die De Rust-omgewing verkluim.

Katrina Davids (28) het in die Keurbooms-rivier in die Jonckrus, Uniondale-omgewing verdrink. Die vermiste vrou is vermoedelik saam met Davids deur die Keurboomsrivier meegesleur.

Op George is vir die tydperk Vrydag 13 Julie tot Maandag 16 Julie ongeveer 150 mm reën gemeet. Omliggende dorpe in die landelike gebiede het egter baie meer reën gehad. Op Uniondale is tot en met Maandagmiddag 160 mm, 245 mm, Ongelegen 305 mm, De Hoop 200 mm, Noll 220 mm, Kammanassie-Oos 115 mm, Hartbeesrivier 200 mm, De Vlugt 165 mm en Waboomskraal 240 mm gemeet. Wildernis het 120 mm reën gehad. Die Tuinroetedam in George het Sondagoggend vir die eerste keer sedert Desember verlede jaar begin oorloop.

Die voorsitter van Agri Klein-Karoo, Weeber Truter het Dinsdagoggend aan die George Herald gesê alhoewel daar kleinvee en volstruisvrektes weens die koue was, is dit nie noemenswaardig baie nie. "Agri verwelkom die reën. Indien ons teen begin September nog reën kry is ons verseker van baie goeie oeste later vanjaar." Truter het gesê daar was geen noemenswaardige rampskade nie.

Clive Africa, waarnemende munisipale bestuurder en bestuurder gemeenskapsdienste by die Eden-distriksmunisipaliteit het groot lof gehad vir al die Eden-rampbestuurslede en ander nooddienstewerkers wat betrokke was by reddingsoperasies en lewering van bystand aan mense in nood tydens die afgelope gure weer. Sedert vroeg Saterdag-oggend moes altesaam 316 mense binne die Eden-distrik na veiligheid gebring word deur dié personeel. Binne die George munisipale bedieningsgebied is 120 mense, almal van Touwsranten, Syferfontein en Thembalethu in gemeenskapsale gehuisves en van kom-berse en kos voorsien.

Africa het gesê die Eden- en George-munisipaliteite het geleer uit die vorige nege jaar se rampe en sodoende hul voorbereiding op die beheer van potensiële rampe in plek gekry. "Dit was een van die grootste redes waarom alles goed hanteer is en rampbestuur se werksaamhede seepglad verloop het."

Met die grond se watervlak wat versadig is, voorspel die Suid-Afrikaanse-weerburo nog bibberweer vir die naweek met 'n 60% kans op reën vir komende Saterdag en 30% vir Sondag met dagtemperature in die Suid-Kaap wat wissel tussen 15 en 16 grade.

* For thousands the recent snow on the mountains was like a fairyland, but behind the scenes emergency workers had to bring 316 people to safety and four people lost their lives. On Tuesday police divers were still looking for a missing woman in the Uniondale area. She is presumed dead after she was swept away in the Keurboomsriver. George recorded about 150mm from Friday 13 July to Sunday 16 July, when the Garden Route Dam started to overflow.

Riviermonde is vroegtydig oopgestoot om vloedwater vrylik te laat vloei

Swaar reën sak Saterdagoggend oor Wildernis neer. Foto: Christo Vermaak

Die 8-jarige Jeane Joubert van George en haar ma Liezl speel Saterdag 13 Julie in die sneeu op die Swartbergpas by Oudtshoorn.

ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS - George Herald

No comments:

Post a Comment