Friday 3 August 2012

Klein-Karoo steeds seinloos na mas knak


Tonne sneeu en ys soos op hierdie toring het veroorsaak dat die kommunikasie-mas op Mannetjiesberg by Uniondale omgeval het en vernietig is. Foto: John Fraser, J&E Communications

OUDTSHOORN NUUS - Onderbroke radio- en telefoonseine in die landelike gebiede in die Uniondale-omge-wing behoort teen vanaand herstel te wees.

'n Kommunikasiemas van sowat 30 m op Mannetjiesberg het die naweek van 14 en 15 Julie tydens gure weer weens die gewig van sneeu en ys omgeval en sonpanele wat batterye van die senders van energie voorsien, vernietig. Dit het veroorsaak dat tientalle huishoudings in die gebied waar nie selfoonontvangs is nie, sonder telefoon- of radioverbinding is.

Die toring, wat aan die weermag behoort, bedien Telkom se telefoondiens, sowel as 'n radio-kommunikasienetwerk wat deur CapeNature, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Eden-distriksmunisipaliteit se rampbestuur-eenheid en J&E Communications op Oudts-hoorn. J&E Communications voorsien sein vir tweerigtingradio's wat deur die boerderygemeenskap gebruik word.

Daar is hierdie week hard gewerk om die sonpanele te vervang en radiosenders tydelik op te rig sodat die diens hervat kan word. Dit is onseker wanneer die vernietigde mas vervang sal word.

Intussen is 'n helikopter Woensdag inge-span om nuwe sonpanele en gelaaide batterye na die hoogste punt van Mannetjiesberg te neem. 'n Kragopwekker sal ook na die toneel geneem word sodat die verwronge staal van die mas opgesny kan word om toegang te kry tot 'n hut met radiotoerusting wat deur die vallende mas beskadig is. Senders sal tydelik opgerig word om sein te stuur.

Werknemers van Telkom en J&E Communications en landbouers van die omgewing sal of met die helikopter of met hul viertrekvoertuie so na as moontlik aan die mas kom om te help.

"Dit is 'n groot werk, maar ons moet dit afhandel voordat die volgende koue front ons tref," het John Fraser van J&E Communications gesê. "Dit is bitter gevaarlik om in snerpende koue op die berg te werk."

Die senders moet in aller yl in werking gestel word voordat nog gure weer die omgewing tref en
'n krisis in 'n ramp verander weens gebrek aan kommunikasie.

"Sedert die toring omgewaai het is Telkom-dienste in die omgewing van Buffelsklip tussen Uniondale en Oudtshoorn, en Georgida tussen Uniondale en Willowmore onderbreek," het Lawrence Howell, voorsitter van Agri Uniondale vroeër die week gesê. "Selfoonontvangs in die gebied is swak, wat beteken daar is geen kommunikasie met die inwoners in die gebied nie,"

Volgens Howell woon daar sowat 600 mense in die gebied van nagenoeg 150 vierkante kilometer.

"Sowat 10 huishoudings in die Agri De Rust-gebied is sonder kommunikasie," het Henkie du Plessis, voorsitter van Agri De Rust gesê. "Op baie van die plase is net plek-plek op hoërliggende gebiede selfoonontvangs."


Hierdie mas op Mannetjiesberg naby Uniondale het weens swaar sneeu en ys wat tonne weeg omgeval en die sonpanele op die dak en langs J&E Communications se toerustinghut vernietig. Dit het daartoe gelei dat radio- en telefoonseine onderbreek is.

-- Oudtshoorn Courant

No comments:

Post a Comment