Friday 3 August 2012

Langkloof-boere is dankbaar vir geen skade


Boere in die Langkloof is baie dankbaar dat herstelwerk wat ná 2007 se vloede gedoen is, dié naweek swaar reën oor ’n tydperk van 24 uur kon hanteer.

“Ek dink dit is ’n reuse-pluimpie vir die ouens wat die herstelwerk gedoen het dat damwalle, brûe, ensovoorts dié naweek massas water kon hanteer,” aldus mnr. André de Wit, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging. Hy sê hy het Saterdag (14 Julie 2012) sowat 300mm reën binne ’n kwessie van 24 uur gemeet.

“Boere in die Albertina-omgewing het in dieselfde tyd tot 400mm gemeet,” vertel De Wit.

Die Langkloof, wat bekend is vir die vrugte wat daar geproduseer word, is byna lamgelê ná vloedwaters in 2007 die vallei in ’n krisis gedompel het. De Wit sê tydens dié vloed is 560mm reën binne ’n kwessie van 40 uur gemeet.

Goeie toets
“Ek dink die naweek se swaar reën en gevolglike watermassa was ’n goeie toets vir die werk wat al ná 2007 gedoen is. Ja, daar is hier en daar bome wat omgewaai het of ’n dak wat afgewaai het, maar dit is nie naastenby so erg soos 2007 nie,” vertel De Wit.

Verskeie boere het weens sloering met uitbetaling van vloedhulp aan die vallei self kontrakteurs aangestel om herstelwerk te doen.

De Wit sê intussen is ’n finale opname oor al 2007 se die skade, Vrydag (13 Julie 2012) na Agri SA en die Departement vanLandbou, Bosbou en Visserye gestuur vir finale goedkeuring. Die departement het vroeër vanjaar onderneem om die proses om die vloedgeld aan die vallei toe te ken, met erns aan te pak.

“Ons is vol hoop dat ’n uitkoms nou sal kom,” aldus De Wit.

- Landbou.com

No comments:

Post a Comment