Friday 24 August 2012

Suid-Kaap renosters se horings verwyder


Die bul JIC se horings word afgesaag deur dr. Willem Burger, veearts, terwyl Barend le Roux van CapeNature help vashou en a.o. Mike van Heerden die drup omhoog hou.

MOSSELBAAI NUUS - Drie renosters op 'n wildsplaas naby Hartenbos is die week onthoring in 'n poging om hul lewens te red.

"Ons het berig ontvang dat die stropers weer gaan toeslaan en besluit om liewer die drie oorblywende renosters se horings te verwyder," het Kobus Crous, eienaar van Bergsig wildsplaas Woensdag gesê.

Sedert Januarie vanjaar is twee renosterbulle op die plaas dood nadat hul horings deur stropers verwyder is.

"Dit was 'n bitter moeilike besluit. Die renosters is al sowat agt jaar op die plaas en ek het probeer om hulle met geëlektrifiseerde drade, kameras en gereelde patrollies te beskerm - maar ek kan hulle nie alleen oppas nie."

Nadat die tweede renoster in Julie vanjaar dood in die veld aangetref is, wou Crous die oorblywende drie renosters verkoop. "Ek het belaglike aanbiedings van drie moontlike kopers gekry en toe besluit om hulle liewer te hou - hulle is vir my meer werd as die geld: die plaas sal nie dieselfde wees sonder hulle nie."

Dr. Willem Burger, twee lede van CapeNature en lede van die SAPD het Woensdag gehelp om die drie renosters se horings te verwyder. Die wet vereis dat CapeNature tydens so 'n prosedure teenwoordig wees.

Pop, 'n renosterkoei met 'n jong kalf July, wat in Juliemaand aangekom het, was eerste aan die beurt. Die span is op bakkies in die veld agter haar aan tot waar Burger geleentheid gekry het om die narkose met 'n pyl toe te dien. Die span was vinnig by om 'n lap oor haar oë te gooi en sponse in haar ore te druk teen die geraas van die saag. Die kalf het boos geblaas en op sy ma se rug probeer klim asof hy haar wil probeer beskerm.

'n Buis aan 'n drup met 'n vloeistof wat die renoster se liggaamsfunksies ondersteun, is aan een oor geheg voordat die kragopwekker aangeskakel is en Burger die horing afgesaag het. Die afgesaagde horing is met 'n antiseptiese kleurstof gespuit en Barend le Roux van CapeNature het 'n mikroskyfie onder die vel ingeplant om opsporing te vergemaklik.

Die koei is met 'n teen-narkose middel ingespuit is en kort voor lank was sy weer op die been. Dieselfde prosedure is met die enigste oorblywende renosterbul JIC gevolg; MC, nog 'n koei, het weggehardloop en moes uit Crous se helikopter met 'n narkose-pyl geskiet word.

Die afgesaagde horings is deur CapeNature se manne geweeg en gemeet en met 'n mikroskyfie toegerus om die oorsprong van die horings vas te stel indien dit gesteel sou word. Die horings is na n plek van veilige bewaring geneem.


Die renosterkoei, MC, kort nadat sy Woensdag saam met nog twee renosters deur 'n veearts onthoring is om te probeer voorkom dat hulle ook die prooi van stropers word.

ARTIKEL EN FOTO'S: TISHA STEYN -  Mossel Bay Advertiser

No comments:

Post a Comment